Stryd teen tyd terwyl duikboot se suurstof opraak

Lede van die Indonesiese reddingsagentskap en mariene polisie berei hulle voor om by die soektog na die KRI Nanggala 402 aan te sluit. (Foto: SONNY TUMBELAKA / AFP)

Die Indonesiese weermag is in ’n wedloop teen tyd gewikkel om ʼn vaartuig met 53 manskappe te red. Die duikboot iewers in die waters aan die kus van Bali waarmee daar Woensdag kontak verloor is, het net tot vroeg Saterdag genoeg suurstof oor.

Yudo Margono, personeelhoof van die vloot, het Donderdag aan verslaggewers gesê die KRI Nanggala 402 se suurstofreserwekapasiteit is 72 uur in die geval van ’n algehele ineenstorting van sy stelsels.

“Daar is tyd tot Saterdag omstreeks 03:00. Kom ons hoop ons vind die vaartuig voor dan.”

Die ergste word egter gevrees nadat ’n oliestorting opgemerk is in die omgewing waar daar met dié duikboot kontak verloor is. Dit kan op moontlike skade aan die brandstoftenk dui.

Ontleders waarsku nou dat die vaartuig moontlik in stukke kon gebreek het as dit so diep as 700 meter onder die seeoppervlak gedaal het.

Dít nadat die vloot Woensdag gesê het dit is moontlik dat die duikboot se stelsels ineengestort het en dat die vaartuig nie meer beheer kon word of noodprosedures nie meer toegepas kon word nie. Dit kon moontlik daartoe gelei het dat die vaartuig tot 600 of 700 meter onder die oppervlak gedaal het.

Volgens Antoine Beaussant, adjunkadmiraal van die Franse vloot, is die Duitse duikboot nie gebou om dié dieptes te weerstaan ​​nie. Die 1 300 ton KRI Nanggala 402 is in 1978 gebou.

Frank Owen, sekretaris van die Australiese duikbootinstituut, het ook sy besorgdheid oor die KRI Nanggala 402 se lot uitgespreek.

“As die duikboot op die seebodem is, is daar werklik min wat hulle kan doen om die mense te bevry,” het hy aan Australiese media gesê.

“Die enigste manier om die mense uit te kry, is om die boot na bo te bring, wat ʼn lang proses is.”

Die Australiese minister van verdediging, Peter Dutton, het op sy beurt gesê aanvanklike verslae dui op die moontlikheid van “ʼn verskriklike tragedie”.

Maroela Media het vroeër berig die KRI Nanggala 402 was geskeduleer om torpedo-oefeninge uit te voer toe hy Woensdagoggend vroeg toestemming gevra het om te duik.

Julius Widjojono, woordvoerder van die vloot, het Donderdag gesê ’n soekgeselskap fokus tans op ʼn gebied rondom die oliestorting, maar dat die presiese ligging van die vaartuig nog nie vasgestel kon word nie. Ses oorlogskepe en ʼn helikopter is reeds gestuur om na die duikboot te soek.

Die VSA, Australië, Frankryk en Duitsland het hulp aangebied. Singapoer en Maleisië het ook reeds skepe gestuur wat na verwagting in die komende dae sal aankom om by die soekgeselskap aan te sluit.

Die Indonesiese weermag weier tot dusver om kommentaar te lewer op die vraag of die duikboot, met 53 bemanningslede, sy kapasiteit oorskry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Mag die bemanning lewendig gevind word.

Johanna

Dit is so tragies en hartseer.. maar ek HOOP en GLO steeds saam met julle families

E

Nee nee nee – dit is verskriklik ontstellend en geen verduideliking van wat fout kon gegaan het nie. Laat my aan K9 dink of so iets – russiese of ‘n oosblok land wat se mense so dood is. Ek sal nooit in enige duikboot gaan nie, dit is skrikwekkender as ‘n vallende vliegtuig, want dis stadig.