Studie toon afgelope vyf jaar die warmste nóg

ʼn Gletser in Antarktika. Foto: Mark Brandon

Verlede jaar was die vierde warmste jaar sedert daar in 1880 begin is om amptelik rekord van temperature te hou.

Dié aankondiging is Woensdagaand deur Nasa en die Amerikaanse Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie (Noaa) gedoen. Die wêreldwye temperatuur word jaarliks deur dié instansies geanaliseer.

In 2018 was die oppervlaktemperatuur 0,83 °C warmer as die gemiddelde. Hoewel dit nie so warm was as in 2015, 2016 en 2017 nie – was die afgelope vyf jaar saam die warmste vyf jaar op rekord.

Dié vorige jare was almal van die warmste jare nóg – met 2016 wat die warmste was. Sekere wêrelddele ervaar intense droogte terwyl ander dele te veel reën of sneeu kry – ʼn kenmerk van klimaatsverandering.

Sedert 1880 het die wêreldwye oppervlaktemperatuur met 1 °C gestyg. Dit is hoofsaaklik weens aardverhitting en menslike aktiwiteite. Van die ergste verhitting is in die Arktiese en Antarktiese streke waar die ysplate smelt. Op ander plekke is daar meer veldbrande en hittegolwe, terwyl ander streke kouer winters en meer oorstromings ervaar.

Die metings word by 6 300 weerstasies reg oor die aarde geneem en ʼn algoritme word gebruik om die veranderings te bepaal.

In ander navorsing wat dié week in die vakjoernaal Nature gepubliseer is, word gewys die ysplate wat in Groenland en Antarktika smelt, sal wêreldwyd ʼn groot invloed hê.

Namate die ys smelt, vertraag dit die Atlantiese Oseaan se sirkulasie en vang warm water vas onder die oppervlak van die Suidelike Oseaan. So gaan nog ys verlore. Die ys wat smelt verander die temperatuur in die atmosfeer en oseane wat nog meer sal lei tot uiterste weersomstandighede.

Die seevlak wat styg en ysplate wat smelt vind reeds plaas, en het die afgelope jare toegeneem. Die nuwe navorsing wys dit sal aanhou, self al stabiliseer die klimaat. Die enigste manier om dit te beëindig is om drasties kweekhuisgasse te verminder.

Die impak van klimaatsverandering word reeds gevoel, volgens Nasa, met oorstromings aan die kus, hittegolwe, intense humiditeit en die ekosisteem wat verander.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jerry ·

Elsabe, die huidige hitte tendens gaan ten minste voortduur tot 2013.

Thinus Erasmus ·

Ek dink groot deel van die aarde se biodiversiteit sal oorleef met warmer temperature en groter wisselende klimaat. Maar kom ons gestel die teenoorgestelde vind plaas dan kry ons – YSTYDPERK!

Arnold Botha ·

Nogal n kenmerk van klimaatsverandering …. so dit het al vantevore gebeur ??

Hendrik ·

En dan is daar nog steeds mense wat hulle koppe soos volstruise in die grond druk en niks doen om klimaatsverandering tee te werk nie. Mense soos Donald Trump en sy lakeie wat hy aanstel om die VSA se Environmental Protection Agency te ondermyn. Dis ironies dat dieselfde mense wat die wetenskap vertou om medisyne en nuwe tegnologie te ontwikkel, die wetenskap wantrou wanneer dit by die mense se invloed op klimaatsverandering kom. Dis bloot omdat dit nie hulle korttermyndoelwitte pas nie, net so kortsigtig soos diegene wat onteiening sonder vergoeding ondersteun.

Arno ·

Weervoorspellers kan nie eers môre se weer reg voorspel nie. Nou wil hulle vir ons vertel wat oor vyftig jaar gaan gebeur.

Luc ·

“Toe ons nog kinders was,” in die 60’s, het ons natuurwetenskap onderwyser ons vertel van die pole wat al groter word. Daar was ook later jare, toe die reënval minder begin raak het, vertel van die woestyne wat al groter word.
Net ‘n gedagte: Die pole word groter en reënval minder. Minder reënval, minder afkoelling. Minder afkoelling hoe warmer. Hoe meer die hitte versprei, gaan pole weer smelt. Omdat water weer losgelaat word by die pole, gaan seevlak begin styg en water oppervlak vergroot. Omdat die wateroppervlak vergroot gaan verdamping meer word en weer meer begin reën en afkoelling kan weer plaasvind. Ons weet net nie met watter natuurverskynsels hierdie veranderinge gaan plaasvind nie. Baie hitte bring storms en hael voort. Onthou, dis maar net ‘n gedagte.
Die Woord leer ons dat daar sal nog geploeg en geplant en in die huwelik uitgegee sal word tot op die laaste dag wanneer Hy sal verskyn. DIT SAL SO WEES.
Mooi berig Elsabé.

jaco ·

dit terwyl n ANC raadslid vanaf iewers in die binneland in 2017 gesê het die rede vir die droogte in die Wes-Kaap is omdat die Here die meerderheid kiesers daar straf omdat hulle DA stem. Blykbaar is stem vir die ANC en dus stem vir korrupsie, swak onderwys, swak staatshospitale ens ens alles BINNE die wil van die Here. Sulke goed is blykbaar nie “sonde” nie.

Rupert Ashford ·

Net ‘n observasie of 2: Groenland se totale ysmassa groei die afgelope 3 of so seisoene, tot vanjaar waar dit selfs hoer as die gemiddelde is. In Antarctika smelt die ys aan een kant waar daar verhoogde onderwater vulkaniese aktiwiteit is, terwyl die ysmassa aan die ander kant groei. Plekke soos Pakistan het skielik weer riviere wat begin vloei langs 1000de jare oue verlate nedersettings wat eens vrugbare valleie was. Klimaatsverandering was nog altyd met ons en SUVs is eers die laaste 20 jaar gewild. Is dit regtig alles toe te skryf aan “menslike aktiwiteit” ? Wat het dit dan in die ou dae veroorsaak?

Luc ·

Dis baie interessant Rupert. Daar is tog nog mense wat logiese verstand gebruik. Ek wens meer van hulle wil kommentaar lewer. Ons kan nie net sit en die wurms eet nie. Die wetenskap is goed en is inderdaad baie nodig. Ons hoef nie met alles en almal saam te stem nie. Ons kan ook nie stil bly en die indruk gee dat daar net een denkrigting is nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.