Stygende kospryse vererger lot van wêreld se armstes

Volgens die FAO was kospryse byna 40% hoër as in Mei verlede jaar, die skerpste styging sedert September 2011. (Foto: Maroela Media)

Kospryse wêreldwyd styg teen die vinnigste koers in ʼn dekade, wat die probleme van die wêreld se kwesbaarste lande vererger terwyl hulle steier onder die uitwerking van die Covid-19-pandemie.

Die VN se Voedsel-en-landbouorganisasie (FAO) is bekommerd dat die stygende pryse boonop tot verdere maatskaplike onrus kan lei in lande waar politieke onbestendigheid reeds heers.

Waarheen is kospryse op pad?

Volgens die FAO was kospryse byna 40% hoër as in Mei verlede jaar, die skerpste styging sedert September 2011.

Op ʼn 12-maandegrondslag het die prys van mielies met 88% die hoogte ingeskiet, sojabone met 73%, graan- en suiwelprodukte met 38%, suiker met 34% en vleis met 10%.

“Dit is natuurlik uiters kommerwekkend,” sê Arif Husain, hoofekonoom van die Wêreldvoedselprogram.

In 2007-’08 het ongenaakbare stygings in die pryse van stapelkosprodukte gelei tot ʼn aantal opstande in stede wêreldwyd. Dit het in 2010-’11 die kruin bereik, met die prysstygings wat onder meer as voorloper tot die sogenaamde Arabiese Lente gedien het.

Wat veroorsaak die verskynsel?

Die wêreldwye ekonomie herstel, maar inflasie neem ook toe omdat regerings groot bedrae geld aan stimulusprogramme bestee het ná die Covid-19-pandemie ekonomiese bedrywigheid verlede jaar tot stilstand geruk het.

China, wat volgens die Wêreldbank vanjaar groei van 8,5% gaan ondervind, sluk die meeste stapelkosprodukte soos oliesaad, graan en vleis.

“Dit is werklik China wat tans die styging in kospryse veroorsaak,” sê ekonoom Philippe Chalmin.

Die Amerikaanse ekonomie sal na verwagting goed herstel en die Wêreldbank voorspel groei van 6,7% vanjaar.

Wêreldwyd is ekonomiese herstel egter “baie ongelyk”, met ontwikkelende lande wat groter invoerrekeninge het, terwyl hulle inkomste nie groei nie, sê Josef Schmidhuber, adjunkdirekteur van die FAO se afdeling van handel en markte.

Ander faktore wat die stygings aandryf, sluit in ʼn droogte in Brasilië, wat mieliepryse opjaag, ʼn herstel in oliepryse en ʼn ontploffing in die koste van seevrag.

Hoe lank gaan dit duur?

(Foto: Graan SA/Facebook)

Kenners sê dit is ʼn moeilike vraag om te beantwoord. Oesskattings lyk tans goed.

Die Amerikaanse departement van landbou voorspel ʼn rekordoes vir 2021-’21, asook rekordoeste van Brasiliese sojabone en Amerikaanse mielies. Indien dit gebeur, gaan dit die prysdruk help verlig.

Klimaatstoestande kan egter ʼn knuppel in die duiwehok van sulke voorspellings wees.

Schmidhuber glo pryse gaan vanjaar betreklik hoog bly, veral as oliepryse aanhou styg omdat die landboubedryf ʼn groot vraag na energie het.

“Indien dit styg, gaan kospryse nog lank hoog bly.”

Abdolreza Abbassian, ʼn ekonoom verbonde aan die FAO, sê “die enigste ding wat ons weet, is dat die kosmark voortaan selfs meer plofbaar gaan wees as wat dit was”.

Uitwerking op arm lande

In talle lande wat tans ander “skokke” moet trotseer, soos Covid-19, staan voedselprysinflasie tans op meer as 20%, sê Arif Husain, verbonde aan die Wêreldvoedselprogram.

ʼn Ernstige ekonomiese en finansiële ekonomiese krisis staar Libanon in die gesig. Daar het voedselprysinflasie op ʼn 12-maandegrondslag in Mei op 226% gestaan, luidens die webwerf Trading Economics.

In Argentinië het die regering vleisinvoere in die middel van Mei vir ʼn maand opgeskort terwyl inflasie opgeskiet het.

Volgens die Wêreldbank het inflasie in Nigerië, aangedryf deur skerp stygings in kospryse, nog sewe miljoen mense in die land in armoede gedompel.

“Pryse styg, maar mense se inkomste word weens Covid-19 verwoes,” sê Husain.

“Arm mense word van alle kante gedruk omdat pryse styg, maar terselfdertyd het hulle geen geld nie,” sê hy.

Konflik is volgens hom die grootste oorsaak van voedselonsekerheid.

Gaan dit lei tot maatskaplike onrus?

(Argieffoto: Mohammed Huwais/AFP)

Abbassian sê daar is geen bewyse dat lande enigsins beter voorbereid op prysonbestendigheid is as tien jaar gelede nie.

“Naastenby dieselfde lande wat tien jaar gelede aan die voorpunt van opstande en politieke onbestendigheid was, kan hulself vandag in presies dieselfde situasie bevind; hulle word wakker een oggend en besef pryse het skielik gestyg,” sê dié ekonoom.

Anders as ʼn dekade gelede, toe stygende kospryse duidelik die oorsaak van maatskaplike opstand was, is dit nou een van verskeie kwessies.

Ryk lande, waarsku Abbassian, sal hulle moet staal vir onrus in Afrika, Latyns-Amerika en Asië.

Al wat nodig is vir maatskaplike opstand om uit te breek, “is ʼn klein vonk. Dit kan kospryse of energiepryse wees, of sommer net swak reënval”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pot se lepel ·

Gelukkig het die ANC regering reeds die oplossing in plek. Onteiening sonder vergoeding gaan die kosproduksie in RSA geweldig stimuleer sodat hier geen tekorte sal wees nie. Almal belê mos tans in landbouproduksie op groot skaal? Of toe nou nie????

annie ·

Dis ‘n gevaarlike tyd wat voorlè. Nà die 1918-griep het die depressie gevolg en daarna WO11. Die wèreldbevolking is soveel groter met Afrika en Indiè wat swaar trek. Afrika stoot sy oorbodige mense oor die rand van die leè pappot na elders met eise vir begeregtiging as spelreèls en die liberales in die VSA en EU dink dis oulik… solank hul geld hou,..

Martie Smartie ·

Ja Angela Merkel het eiehandig die Europese Ariese karakter v Europa vernietig. Gn mens weet hkm sy nie lankal weggejaag is nie. Europa is nou Afrika no 2

Martie Smartie ·

Dankie China dankie vir als. Die corona virus en dat julle die wereld in armoede in eet. Dankie julle outjies

Daizee ·

Dis nié net die wêreld se armes wat hierdie gemors aan hulle basse voel nie!!!

Francois Le Cochon ·

Pringle tjips is nou R5 duurder, en die nuwe verpakking 10g ligter!!

Elinette ·

Wel, as jy Pringle chips kan bekostig, gaan dit nog heel goed met jou!

christo ·

En dan sê Stats SA ons het ‘n lae inflasiekoers? My R100 strek nie vêr as ek kos koop nie.

Retha ·

Ongelukkig trek die boere ook nie voordeel uit die prys verhogings nie. Die bedrag wat na die boer gaan is skandalig, die middelman geniet die voordeel. Ons kan net eenmaal per maand kos koop dan is dit klaar vir die res van die maand. Ons bedrag was die afgelope maand so hoog dat ek eintlik geskrik het. Nou word ons pensioen ook nie meer soos altyd op die 1ste van die maand betaal nie. Kan nie verstaan waarom mense wie se geld in bankrekening inbetaal word te doen het met die wie hul geld by betaalpunt kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.