Suez-opeenhoping plaas hernieude klem op diere se lot ter see

Lede van die Egiptiese kuswag patrolleer die Suez-kanaal nadat dit weer vir verkeer oopgestel is. (Foto: Tarek Wajeh/AFP)

Die onlangse opeenhoping in die Suez-kanaal het hernieude kommer gewek oor die vervoer van lewende hawe. Miljoene diere word elke jaar ter see vervoer in omstandighede wat gereeld deur diereregtegroepe veroordeel word.

Lande van Australië tot Roemenië, Uruguay en Suid-Afrika voer jaarliks diere in lang seereise wêreldwyd uit. Die reise is dikwels dodelik en duisende beeste en skape het die afgelope paar jaar ter see gevrek.

Die Suez-kanaal is Maandag amptelik vir verkeer heropen en in veral Roemenië was daar groot kommer oor sowat 130 000 skape waarvan die verskeping beduidend vertraag is toe die Ever Given in die kanaal vasgesteek het. Die skip het die kanaal sowat ʼn week lank versper.

“Elke uur tel vir die skape en beeste en die sterftesyfer gaan bly toeneem,” waarsku Gabi Paun, die Europese Unie-direkteur van Animals International.

Elf Roemeense skepe is vertraag en dit is byna seker dat hulle kosvoorraad lankal reeds uitgeput is, sê hy.

“Selfs al word wetgewing nagekom en dra die skepe 25% meer kos [as wat nodig is] … gaan dit desnieteenstaande teen hierdie tyd reeds klaar wees,” sê Paun.

Mary Pana, die hoof van Roemenië se grootste vereniging veeboere en -uitvoerders, Acebop, sê die land stuur voor Ramadaan sowat 50 000 skape per week na Midde-Oosterse lande soos Saoedi-Arabië en Jordanië.

Duisende vrektes

Dodelike voorvalle het opnuut die soeklig op die gevare geplaas.

Net verlede week het Spaanse owerhede opdrag gegee dat 1 600 beeste op pad na Turkye van kant gemaak moet word. Dít nadat amptenare daar geweier het dat die trop afgelaai word, omdat hulle gevrees het daar was ʼn uitbreking van bloutong aan boord.

Die vee was teen daardie tyd drie maande ter see.

In November 2019 het ʼn vragskip met 14 600 skape aan boord in die Swart See omgeslaan nadat dit uit Roemenië vertrek het. Net sowat 180 diere is eindelik gered. Dié wat nie verdrink het of vertrap is nie, het van die dors omgekom.

Roemenië is vantevore al gekap oor sy vervoer van diere ter see in die somerhitte. In 2015 het duisende skape op pad na Jordanië weens dors en die versengende hitte gevrek.

In 2009 het ʼn skip vanaf Uruguay na Sirië met meer as 30 000 skape aan boord in die Middellandse See gesink. Tientalle bemanningslede is dood of word vermis.

Australië het in 2018 wysigings aan lewende uitvoerhandel aangebring ná ʼn video van ʼn diereregtegroep gewys het hoe skape, sommige reeds dood, in klein hokkies gestop staan en in ontlasting bedek is. Die diere was onderweg na die Midde-Ooste.

Skepe is oud

Meer as 2,8 miljoen stuks lewende vee – beeste, skape en bokke – is in 2018 vanuit die EU na Mediterreense lande uitgevoer. Meer as die helfte daarvan was van Roemenië afkomstig.

ʼn Verslag van die Europese Kommissie het verlede jaar gewys op moniteringsgebreke in verskeie lande, waaronder Roemenië, Frankryk en Spanje.

Die drukgroep Compassion in World Farming (CIWF) kla reeds jare lank oor die skending van regulasies wat hy as onvoldoende beskou.

ʼn Groot probleem is die swak ontwerp, konstruksie en onderhoud van die skepe waarmee die diere vervoer word, sê Agathe Gignoux, hoof van die groep se Franse tak.

Sy verwys onder meer na uiters steil opritte en lae dakke wat dit moeiliker maak om die diere kos en water te gee.

Gignoux sê die skepe is dikwels oud en “nie gebou om diere te vervoer nie”. Die verslag van die Europese Kommissie het ook bevind die skepe is aanvanklik gebou om voertuie te vervoer. Gignoux sê erger nog is die feit dat daar geen veeartssorg aan boord is nie, selfs al duur die reis gemiddeld tussen vyf en agt dae. Sommige reise duur weke lank.

Die CIWF sê die rede hoekom diere lewend vervoer word, spruit nie uit probleme met bewaring of weens ʼn behoefte dat klante in die Midde-Ooste ʼn rituele slagting vereis nie.

“Die rede is eenvoudig: Dit is duurder om vee in Europa te slag,” sê Gignoux.

In Junie het die Europese parlement die aandag gevestig op bewerings dat EU-wetgewing oor die vervoer van lewende hawe geskend word en ʼn kommissie is aangestel om die kwessie te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Deon ·

Ek glo nie die mense wat die diere vervoer wou gestrand wees in die suez kanaal nie, ek glo ook nie hulle het enige skeep of boot aspris gesink nie, die berig se self dat daar mense ook die lewe gelaat het met skepe wat gesink het en dies meer… Ek glo ook nie die mense wat die diere uitvoer wil so baie vrektes he nie(of moet ek eerder se sterftes?) dit is wins in die wind in as enige dier vrek…. Diere moet met respek behandel word maar die verbruiker moet verstaan dat daardie selfde skaap onthoof word wanneer jy dit slag. Enige slagtery bly n aardige besigheid… Ek neem aan om diere dood te martel is erger as die humanitere manier om hulle dood te maak vir slag nietemin word diere se koppe afgesny en in sommige gevalle word die slagaar gesny sodat die dier doodbloei…. Hou op vleis eet en kla dan, vleis sluit hoenders en vis ook in, sowel as koue vleise.

Termiet ·

Hulle lewe in hagkike toestande op die skepe op die rowwe see. Is dit nie marteling nie?

Rudolph ·

Die enigste manier om die mishandeling, lyding en onnatuurlike dood van weerlose, onskuldige diere te stop is om op te hou om diereprodukte of dienste te koop. Mishandeling begin alreeds op die plaas

Pieter ·

En die ANC is deel van hier die diere mishandeling. Dit is n skande dat diere so behandel word en dit alles net oor geld

Rudolph ·

Skielik is daar in die Afrikaanse media ‘n paar stemme wat bekommerd is oor die lot van diere wat lewendig op skepe vervoer word en dat daar iets gedoen moet word. Dit is asof mense dink dat as ons ophou om diere lewendig uit te voer gaan alles weer OK wees vir die diere en dan kan ons rustig en met ‘n skoon gewete voortgaan met ons tjops en toks. Lamsboud in die oond want die groot euwel van lewende uitvoer is gestop of ons het ons hande in bekommernis daaroor gevryf. Hoe skynheilig kan ‘n mens wees! Die mishandeling, lyding en dood van weerlose, onskuldige diere begin op die plaas. Elkeen wat ‘n diereproduk of dierediens koop is medepligtig aan die mishandeling, lyding en dood. Die kampanjes en besware teen lewende uitvoer is ‘n gerieflike rookskerm om die werklikheid te verbloem

jzjz05 ·

Ek is jammer ek was n boer en stem nie saam met sommige van die opmekings nie ,daar is geen boer wat sy diere mishandel nie ,Ek het 3000 stuk vee gehad en as een van hulle siek was het ek hom dokter toe gevat ,as hulle honger was het ek hulle kos gegee ,hulle is gereeld geent en gedous en vir hulle se gesondheid gekyk. en ek is seker dat daar nie n boer wat sy vee sal mishandel nie. ek hoop die klagsters hier eet net wortels en kool en hou op om mense te beskuldig oor iets warvan julle niks weet nie.

FBS ·

So maklik om altyd better te weet en te kritiseer. Hoekom nie werkende antwoorde verskaf wat die ekonomie help, werk skep en kos aan die mense voorsien. Maar as jy dit doen dan is daar geen emosie nie maar net die werklikheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.