Suid-Afrika het nog baie platinumreserwes – USGS

Platinumreserwes grafiekSuid-Afrika en Zimbabwe, wat saam die meeste metale van die platinumgroep lewer, het na raming sowat 150 000 ton onontginde reserwes. Hiervan is 78 000 ton reeds ontdek, terwyl ‘n geraamde 75 000 ton nog wag om ontdek te word.

So lui ‘n verslag van die United States Geological Survey (USGS) wat pas bekend gestel is. Daar is volgens die verslag nog twintig keer soveel platinum-metale in die grond as wat reeds ontgin is sedert in 1920 met die ontginning begin is. Dit is ongeveer twee keer so veel as wat met vorige ondersoeke bepaal is.

Sowat 90 persent van die wêreld se platinum-metale kom in slegs drie gebiede voor – Suid-Afrika se Bosveldstollingskompleks, die Zimbabwedyk en Rusland se Norilsk-gebied. Die USGS meen dit veroorsaak dat die aarde se reserwes op die kort termyn kwesbaar is vir ontginning. Faktore soos maatskaplike, ekonomiese, politieke en omgewingskwessies sal ‘n groter gevaar vir ontginning wees as die uitputting van reserwes. Faktore wat spesifiek gelys word as redes hoekom ontginning is Suid-Afrika ontwrig kan word is elektrisiteits- en watertekorte.

Die aanvraag na platinummetale het in twintig jaar verdubbel tot 470 ton in 2012.

Die verskillende metale van die platinumgroep word onder meer gebruik om motor-uitlaatgasse skoon te maak, vir die vervaardiging van glas, in hoë oktaan petrol en in middels wat gebruik word om kanker mee te bestry. Dit word ook in juweliersware en in talle elektroniese apparaat gebruik. Dit sal na verwagting ook ‘n groot rol speel in kragbronne om skoon energie aan motors en huishoudings te voorsien.

Die volledige verslag kan hier afgelaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.