Suid-Afrikaners deel van gyselaarsdrama in Mali

Argieffoto van Al Qaeda. Foto: www.foreignpolicy.com

Argieffoto van Al Qaeda. Foto: www.foreignpolicy.com

Twee Suid-Afrikaners is onder die vier gyselaars wat douvoordag tydens ʼn paramilitêre klopjag op ’n beleërde hotel in sentraal-Mali vrygelaat is.

Daar word egter gevrees dat ʼn derde Suid-Afrikaner een van die drie buitelanders kan wees wat gesterf het gedurende die 20-uur lange beleg in Sévaré, sowat 600 km noordoos van die hoofstad Bamako. Die Suid-Afrikaner het glo in die Byblos-hotel tuisgegaan.

Die twee Suid-Afrikaners wat saam met ʼn Rus en ʼn Oekraïnse burger vrygelaat is, is kontrakteurs en werknemers van ʼn operasie van die Verenigde Nasies in Mali. Choguel Maiga, Mali se minister van inligting, het gesê niemand het nog verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie. “Sewe mense is in hegtenis geneem en word nou ondervra,” het hy gesê.

Die beleg het Vrydag omstreeks 07:00 begin toe vermeende terroriste op motorfietse met luidsprekers deur die sentrale deel van Sévaré gery het. Een van die inwoners het gesê die motorfietsryers het hulle aangesê om na hul huise te gaan en kort daarna het hulle geweerskote en luide ontploffings gehoor.

Die motorfietsryers het eers Malinese weermag-barakke aangeval en daarna na ’n gedeelte van die stad beweeg met talle hotelle, insluitende Byblos wat gewild is onder buitelanders. Malinese soldate het die area afgebaken en die hotel omsingel, maar die militante was reeds binne en het mense as gyselaars geneem.

Die finale sterftesyfer is nog nie bekend nie, maar minstens vyf Malinese soldate en drie van die gewapende mans, een met ’n ontploffingsgordel, is dood.

Mali se krisis het in 2012 begin toe Tuareg-separatiste ʼn rebellie teen die staat geloods het omdat hulle onafhanklikheid geëis het. Hulle is deur Islamitiese groepe, insluitend Al-Kaïda, ondersteun.

Die afgelope paar maande het sporadiese aanvalle al hoe meer in die suide en sentrale dele van die land plaasgevind waar Franse en VN-teenwoordigheid beperk is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.