Suid-Korea reageer op Noord-Korea-ontploffing

Die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-un, tydens ʼn militêre optog in Pyongyang, Noord-Korea (15 April 2017). Foto: AP Photo/Wong Maye-E, File

Suid-Korea het Maandag ‘n gesimuleerde aanval op Noord-Korea se kerntoetsplek uitgevoer in reaksie op Pyongyang se ontploffing van ʼn beweerde waterstofbom Sondag.

 Die Suid-Koreaanse weermag het Maandag gesê hy het aanduidings waargeneem dat Noord-Korea vir nuwe missiellanserings voorberei. Die Yonhap-nuusagentskap berig die weermag het gesê die lansering van ʼn interkontinentale ballistiese missiel kan nie uitgesluit word nie.

Dit kom nadat Noord-Korea vroeër daarop aanspraak gemaak het dat hy ’n waterstofbom ontwikkel het wat op ’n interkontinentale ballistiese missiel geplaas kan word.

 Na aanleiding van hierdie uitsprake het ʼn baie sterk aardbewing van M6,3 wat die Sondag in Noord-Korea voorgekom het dadelik wêreldwye reaksie ontlok. Die amptelike Noord-Koreaanse nuusdiens het selfs ’n foto uitgereik waar die plofkop deur die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-un, besigtig word.

Kenners meen egter die sterkte van die aardskudding wat veroorsaak is, dui nie op ’n waterstofbom nie, maar eerder ’n kernbom wat deur elemente van ’n waterstofbom “gerugsteun” word. Noord-Korea het voorheen aanspraak gemaak op ’n waterstofbomontploffing, maar dit is deur kenners verwerp.

ʼn Man kyk na ʼn televisienuusberig by die Seoul-treinstasie oor ʼn moontlike kerntoets wat deur Noord-Korea uitgevoer is (3 September 2017). Foto: AP Photo/Ahn Young-joon

Anders as die ander aardbewings wêreldwyd het die USGS nie hierdie aardbewing met ʼn kol op die kaart aangedui nie, maar ’n hoekige simbool. Die aardbewing is aanvanklik as vlakker aangedui, maar later tot ’n diepte van tien kilometer verander.

Japan het reeds na berig word ’n vliegtuig gestuur om die atmosfeer vir moontlike radio-aktiewe materiaal te toets.

Noord-Korea word ingevolge internasionale sanksies verbied om kerntoetse uit te voer, maar steur hom nie daaraan nie.

Die voorval het gekom kort ná Noord-Korea ’n missiel oor Japan gelanseer het, en wat in die see aan die anderkant van Japan neergestort het. Japan, wat voorheen gedreig het om alles wat Noord-Korea bo-oor hom lanseer neer te skiet, was egter nie gereed nie, hoewel die landsburgers per selfoon waarskuwingsboodskappe ontvang het. Japan het na die voorval oefeninge gehou om slaggereed te wees om voortaan missiele oor sy grondgebied neer te skiet.

Bykomende bronne:
The Guardian
USGS

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Reti ·

Nou behalwe die vuurhoutjie hoe verwoes die onnosele mannetjie die oseaan. Arme seediere wat gedood en vermink word en vergiftig word deur kern reaksie.

Asb ·

Hy laat my dink aan stout moetswillige kind wat baie gevaarlik speel. Kort Groot pakslae en sy speelgoed moet gevat word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.