Suid-Korea-TV in die sop oor Olimpiese uitsending

‘n Foto van die Tsjernobil-kernramp is gebruik om Oekraïne bekend te stel (Foto: koryodynasty/Twitter)

ʼn Groot uitsaaier in Suid-Korea moes Saterdag om verskoning vra ná aanstootlike foto’s en onderskrifte gebruik is om deelnemende lande tydens openingseremonie van die Olimpiese Spele in Tokio te beskryf.

Afsonderingsregulasies weens Covid-19 het veroorsaak dat die seremonie Vrydag in ʼn byna leë stadion plaasgevind het.

MBC, een van die grootste nasionale televisienetwerke, het foto’s van die 1986 Tsjernobil-kernramp vir Oekraïne gebruik; ʼn gewelddadige oproer vir Haiti en ʼn bemarkingsplakkaat van bitcoin vir El Salvador toe dié lande se atlete die stadion binnegekom het.

Die uitsaaier het om verskoning gevra en gesê “onbehoorlike foto’s en byskrifte is gebruik om sommige lande bekend te stel”. “Ons vra om verskoning vir dié lande, insluitend Oekraïne en ons kykers,” het MBC gesê.

Vir sommige lande was die beskrywings meer gastronomies van aard met foto’s van pizza vir Italië, soesji vir Japan en salm vir Noorweë.

Die netwerk het die Marshalleilande beskryf as “ʼn voormalige kernwapen-toetsperseel vir die VSA” en Haiti as “ʼn land met ʼn onstabiele politieke situasie weens die sluipmoord op sy president”.

Ondanks die netwerk se verskoning het die foto’s en byskrifte groot reaksie en woede aanlyn uitgelok. “Hulle het enigiets gebruik wat eerste met Google opgekom het,” het een gebruiker gesê. “Dit is ernstige diplomatieke onbedagsaamheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Rian ·

Alles wat die tv stasie verkondig het is wel die waarheid, so waaroor die bohaai. Of is dit weer die woke patete wat kla.

Jr ·

Ooh die waarheid maak seer. Wonder watse prente hulle vir SA gebruik het.

Martie Smartie ·

HA HA HA dis funny, mens sou graag tonele vd oproer en moord en plundering n week of twee terug in Suid Afrika okk wou sien, die waarheid maak seer mnr Ceeril

Malan ·

Dit is tog waarvoor hierdie lande bekend is. Maar dit wys tipies hoe fyngevoelig die wereld geraak het oor die waarheid, soos ons in Suid-Afrika maar alte goed weet.

Tanniepetoors ·

Nou wat wou hulle sien? Blommetjies, vodka en hula-dansers? Waarheid maak wraggies seer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.