Sunak is nuwe Britse premier

Rishi Sunak (Oktober 2022) (Foto: Daniel Leal/AFP)

Rishi Sunak, Brittanje se voormalige minister van finansies, het Maandag die stryd om die leierskap van die Konserwatiewe Party gewen en sal die land se eerste premier van Indiese afkoms wees.

Liz Truss het verlede week as Britse premier bedank ná net 45 dae in Downingstraat 10.

Penny Mordaunt, die laaste mededinger wat oorgebly het nadat Boris Johnson onttrek het, kon nie die nodige 100 nominasies van haar mede-LP’s kry nie waarna Sunak as die nuwe leier van die Konserwatiewe Party aangewys is.

Sunak, ‘n welgestelde Hindoe-afstammeling van immigrante uit Indië en Oos-Afrika, het op sy Twitter-profiel geskryf dat Brittanje deur ‘n “diepgaande ekonomiese krisis” in die gesig gestaar word.

“Ek wil ons ekonomie regruk, ons party verenig en ‘n diens lewer vir ons land,” het hy gesê.

Die Arbeidersparty eis nou ‘n algemene verkiesing.

Sunak erf ‘n Britse ekonomie wat op pad na ‘n resessie was, selfs voor die onlangse onrus wat deur Truss veroorsaak is.

Truss het bedank nadat aankondigings oor ongefinansierde belastingverlagings skokgolwe deur markte gestuur het en die pond tot ‘n rekordlaagtepunt verswak het.

Dit het veroorsaak dat die regering ‘n u-draai gemaak het rakende die grootste deel van sy begroting, insluitend die afskaling van ‘n perk op stygende energierekeninge wat grootliks bygedra het tot ‘n lewenskostekrisis vir miljoene Britte.

“Beleggers hoop duidelik dat Sunak die ekonomie en die politieke situasie sal stabiliseer – hoewel dit moeilik is om in hierdie stadium uit te werk wat die moeiliker taak is,” het Danni Hewson, finansiële ontleder van AJ Bell, gesê.

Britse inflasie is op ‘n 40-jaar-hoogtepunt en die Bank van Engeland sal na verwagting volgende week nog ‘n groot rentekoersverhoging aankondig.

Shevaun Haviland, direkteur-generaal van die Britse Sakekamer, het Sunak versoek om ook besighede te help wat met groot energierekeninge sukkel.

“Die politieke en ekonomiese onsekerheid van die afgelope paar maande was geweldig skadelik vir Britse sakevertroue en moet nou tot ’n einde kom,” het sy in ’n verklaring gesê nadat Sunak se nuwe posisie bevestig is.

“Die nuwe premier moet ’n vaste hand hê om die ekonomie deur die uitdagende toestande wat voorlê te sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Aggie ·

Skerp!! Ek wonder of daar tans iemand is wat Britanje weer op koers kan kry. Miskien koning Charles????

Republikein in die Wes Kaap ·

Met al die emigrasie gaan ‘n Afrikaner nog eerste minister word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Kanse is goed dat Brittanje gaan opbreek. Skotland, Wallis en Noord Ierland sal wegbreek.

Republikein in die Wes Kaap ·

Volgens Business Insider vandag is daar meer voedselpunte vir behoeftiges in Brittanje as takke van ‘n bekende Amerikaanse burger kitskos franchise. Meer en meer Britte sal hierdie winter moet kies tussen verhitting en ‘n brood. Nee wat, Sunak is ‘n miljadêr wat uit voeling is met die werklikhede van sy mense.

Aggie ·

Is sy afkoms vir die deursnee Brit aanvaarbaar? Vra maar net…

Republikein in die Wes Kaap ·

Sy afkoms is nie ‘n probleem nie. Hy moet net die job kan doen. Maar dis nou een bankrotboedel op die ander. Daar lê harde werk voor vir Konserwatiewes. Die party moet nou veg vir oorlewing.

Niklaas ·

Gee hom ‘n regverdige kans . Dalks verbaas hy almal. Hy weet ten minste baie meer van finansies as sy voorganger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.