Supermodel se naam pronk op duur teesakkies, gesigolie

Kate Moss. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Die Britse supermodel Kate Moss volg in die voetspore van bekendes soos Gwyneth Paltrow en het pas haar eie reeks skoonheid- en leefstylprodukte genaamd Cosmoss bekendgestel.

Die modetydskrif Vogue het berig dat Moss twee en ʼn half jaar bestee het om dié produkte, wat tee, gesigolies en parfuum met essensiële olies insluit, vir haar nuwe handelsmerk te ontwikkel.

Die 48-jarige model en ma het in ʼn onlangse onderhoud op BBC-radio se Desert Island Discs gesê dat sy haar kenmerkende partytjie-leefstyl van die 1990’s agtergelaat het en nou meditasie en die kwekery bo klubs verkies.

Moss meen sy het dié produkte ontwikkel om haar “rustiger lewensfase” se komplementeer en is volgens haar ook “ideaal vir rituele wat die liggaam en siel met die natuurlike omgewing balanseer”.

‘n  Blik Cosmoss-tee sal kopers $23 (sowat R398) uit die sak jaag, terwyl die gesigolie en parfuum onderskeidelik £120 (R2 398) en £105 (R2 098) kos.

Cosmoss is nie die eerste produkte waarop die bekende model se naam pronk nie.

ʼn Blik Cosmoss-tee sal kopers meer as R2 000 kos. (Foto: Cosmoss/Instagram)

Sy het voorheen ʼn reeks klere vir die tienermodeketting Topshop  – wat sy fisieke winkels tydens die pandemie gesluit het – ontwerp, en ook al haar naam verleen aan ʼn reeks lipstiffies van die Britse-skoonheidsreeks Rimmel.

In 2016 het sy ook haar eie talentagentskap, Kate Moss Agency, gestig, wat haar dogter, Lila Moss, sowel as Ella Richards (kleindogter van die Rolling Stones se Keith Richards) en kunstenaars soos Rita Ora verteenwoordig.

Maroela Media het vroeër berig dat Moss ook vanjaar ʼn baie kort getuienis in die opspraakwekkende lastersaak tussen Johnny Depp en sy eksvrou, Amber Heard, gelewer het.

Moss, wat van 1994 tot 1998 in ʼn verhouding met Depp was, is deur sy regspan na die getuiebank geroep nadat die 36-jarige Heard in haar getuienis vroeër vanjaar verwys het na bewerings dat Depp destyds vir Moss by ʼn stel trappe afgestoot het.

Die model het dié bewerings in die hof ten sterkste ontken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Delia ·

As ons rand sterker gestaan het soos die Euro, is dit nie so baie.

KatjieDeKat ·

As jy peperduur gesigrome of olies wil koop, kry produkte vd Japanese skoonheidshuis Kanebo. Vel soos satyn. Wel ek dink hul bestaan nog, kan al vir 25 jaar nie meer hul produkte bekostig nie, ek het kinders begin kry:-) Clarins is ook baie goed. Dis nou vir diegene wat dit kon bekostig. Ek hou maar verby. Toe ek dit wou koop, kon ek dit nie bekostig nie en nou dat ek dit wel kan bekostig is ek te suinig. Ek noem dit maar vir diegene wat kan. Tried and trusted, time-proven, highly effective product lines, those.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.