Supersikloon gaan Indië, Bangladesj ‘binne dae’ tref

‘n Satellietbeeld deur NASA toon supersikloon Amphan oor die Golf van Bengale. 
(Foto: NASA Worldview, Earth Observing System Data and Information System via AP)

Miljoene mense in Indië en Bangladesj is tans in die pad van ’n supersikloon wat na verwagting binne die volgende 36 uur dié twee lande gaan tref. Reëlings word nou inderhaas getref om diegene in onmiddellike gevaar na sikloonskuilings te verskuif. Skuilings het egter in dié stadium beperkte ruimte wees die Covid-19-pandemie.

CNN berig data deur die Amerikaanse gesamentlike tifoonwaarskuwingsentrum toon dat supersikloon Amphan Woensdagaand die grens van Indië en Bangladesj naby die Indiese stad Kolkata gaan tref. Dié stad het sowat 14 miljoen inwoners.

Dié supersikloon het Maandagaand die sterkste storm nóg geword om die Golf van Bengale te tref met stormsterk wind van tot 270 km per uur. Die Golf van Bengale is in die noordoostelike deel van die Indiese Oseaan geleë tussen Indië in die weste en noordweste, Bangladesj in die noorde en Mianmar in die ooste.

Vissers anker Dinsdag hul skuite in Bhadrak in Indië in voorbereiding vir supersikloon Amphan. (Foto: ANI Photo)

’n Waarskuwing is intussen aan vissers uitgereik om nie op oop water in die sentrale en suidelike deel van die Golf van Bengale uit te gaan nie, berig Indian Express.

Dhaka Tribune berig dat supersikloon Amphan teen vanoggend (Dinsdag) sowat 700 km van die Bangladesj-kusgebied teen ’n spoed van 245 kilometer per uur gewoed het.

Volgens amptenare in Indië is tot 300 000 mense in die kusgebiede van Wes-Bengale en Odisha in onmiddellike gevaar en moet so gou moontlik dié gebied verlaat en na sikloonskuilings verskuif word.

Satya Narayan Pradhan, direkteur-generaal van Indië se nasionale rampbestuur, het egter gesê hoewel daar gewoonlik plek is vir 500 000 mense in sikloonskuilings in Wes-Bengale, daar nou net plek is vir 200 000 mense weens maatreëls soos die handhaaf van sosiale afstand te midde die Covid-19-pandemie.

Donker wolke hang Dinsdag oor Wes-Bengale, dae voordat supersikloon Amphan na verwagting gaan tref. (Foto: ANI Photo)

Verskeie busse is in dié stadium gereël hoewel talle mense na die skuilings sal moet stap.

Enamur Rahman, junior minister van rampbestuur in Bangladesj, het gesê dié land beplan om ongeveer twee miljoen mense van kusgebiede na meer as 12 000 sikloonskuilings in die binneland te verskuif.

Daar is tans plek vir 9,1 miljoen mense in sikloonskuilings in Bangladesj. Diegene sal steeds sosiale afstand kan handhaaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

Dit is so lagwekkend. Banger dat mense DALK die virus sal kry as wat hulle vir ‘n orkaan is. 200000 mense kan gered word van die orkaan en 300000 kan maar doodgaan. Die virus gaan nie eens soveel doodmaak oor tydperk nie maar orkaan doen in paar sekondes. Maar dis niks. Ek kan dit nie verstaan nie.

Anoniem ·

Die natuur baklei terug omrede die mens dit vernietig en daar is geen manier om dit te stop nie. Hoe gouer ons besef dat die natuur in beheer is en nie die mens nie, hoe beter.

Faraway ·

Manie
Ek verskil van jou . . .Die natuur is gladnie in beheer nie . . . GOD IS!!!
Romeine 8 : 19-22 verklaar
” Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van GOD. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe – nie gewillig nie, maar ter wille van HOM wat dit onderwerp het – in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van GOD. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe “

Tienie ·

Ek het geen begeerte om so n storm te sien nie.

Ek sou gevlug het en nooit weer terug gegaan het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.