Superster Rihanna verwelkom eerste pienkvoet

Rihanna. (Foto: Mike Coppola/Getty Images for AFP)

Superster en mode- en grimeringmagnaat Rihanna is nou nog ʼn titel ryker.

TMZ het Donderdag die nuus gebreek dat die Barbadaanse sanger en haar kletsrymer-kêrel Rakim Mayers, beter bekend as A$AP Rocky, glo ʼn babaseuntjie op 13 Mei verwelkom het.

People Magazine het ook die geboorte bevestig en berig ’n bron na aan die egpaar sê hulle is by die huis en “baie opgewonde om ouers te wees.”

Geen ander besonderhede, ook nie die pienkvoet se naam nie, is al bekend gemaak nie.

Rihanna en haar boepie op die voorblad van Vogue. (Foto: Annie Leibovitz/ Instagram)

Die sangeres, wie se volle naam Robyn Rihanna Fenty is, is verlede jaar deur Forbes-tydskrif ʼn miljardêr verklaar danksy die sukses van haar musiekprestasies en suksesvolle grimering-, onderklere- en hoëmode-handelsmerke.

Gerugte dat die sangeres agter die treffers “Diamonds” en “Umbrella” en Mayers ʼn paartjie is, het jare lank gewoel voordat hulle verlede jaar hul romanse amptelik bevestig het.

Die paar het ook die swangerskap eers in Januarie vanjaar bevestig deur ’n reeks glansryke foto’s te plaas, waarin die toe aanstaande ma in ’n lang pienk pofbaadjie en juwele gepronk het.

Rihanna spog sedertdien met haar boepie in onkonvensionele swangerskapmodekeuses, wat gereeld koppe ook laat draai het.

Rihanna en A$AP Rocky. (Foto: Mike Coppola/Getty Images for AFP)

Die 34-jarige het dikwels deurskynende of kort uitrustings deur haar swangerskap gedra en selfs by die Parys-modeweek in ʼn heeltemal deursigtige Dior-kantskemerkelkrok, waaronder sy onderklere uit haar eie Savage X Fenty-reeks aangetrek het, gedra.

Sy en haar boepie verskyn ook op vandeesmaand se voorblad van die modetydskrif Vogue.

Maroela Media het vroeër berig dat Mayers verlede maand by die Los Angeles Internasionale Lughawe in die VSA in hegtenis geneem is in verband met ʼn skietvoorval in November 2021.

Die paartjie het pas van ʼn vakansie in Barbados af teruggekeer toe hy in hegtenis geneem is.

Hy is om 12:42 amptelik toegesluit, en borgtog het $550 000 (sowat R8 429 855,50) beloop. Hy sal op 17 Augustus in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.