‘Sussex Royal’ dalk binnekort nie meer so koninklik

Harry Meghan sussex

Koningin Elizabeth het glo nie toestemming gegee dat die woord “royal” voortaan in die egpaar se handelsmerk gebruik mag word nie. (Foto: Matt Dunham/AP)

Brittanje se prins Harry en sy vrou, Meghan, breek op 31 Maart amptelik weg van die koninklike familie, het die paartjie se kantoor Woensdag gesê.

Die aankondiging kom terwyl Buckingham-paleis glo nog besluit oor of die twee voortaan die handelsmerk Sussex Royal mag gebruik, nadat hulle vroeër aangekondig het dat hulle nie meer as koninklikes wil werk nie.

Harry en sy Amerikaanse aktrisevrou het reeds duisende ponde bestee aan dié handelsmerk, asook aan ʼn splinternuwe webwerf wat hulle gewilde Instagram-rekening aanvul, het die Britse Mailonline berig.

(Skermgreep: sussexroyal.com)

Volgens Mailonline het koningin Elizabeth egter reeds besluit dat die twee nié toegelaat gaan word om die woord “royal” meer in hul handelsmerk te gebruik nie. Daar was nog geen amptelike aankondiging daaroor nie.

Harry en Meghan het reeds met die proses begin om Sussex Royal as ʼn internasionale handelsmerk vir items soos klere, skryfbehoeftes, boeke en leermateriaal te registreer en het ywerig gewerk om hulle nuwe liefdadigheidsorganisasie, Sussex Royal, The Foundation of the Duke and Duchess of Sussex, op die been te bring.

Prins Harry en sy vrou, Meghan. (Foto: Frank Augstein, AP)

Mailonline berig dié handelsmerk is nou waarskynlik van die baan en die twee sal nuwe planne vir hulle handelsmerk moet beraam.

Die egpaar het ʼn jaar gelede begin om die Sussex Royal-handelsmerk te gebruik nadat hulle weggebreek het van prins William en sy vrou, Kate, se huishouding.

Nagenoeg 11,2 miljoen mense volg @sussexroyal op Instagram, naastenby dieselfde getal volgelinge as diegene wat die hertog en hertogin van Cambridge volg.

Die hertog en hertogin van Sussex. (Foto: Dominic Lipinski/AP)

Die prins en sy vrou het verlede maand aangekondig hulle stap weg van die meeste van hul koninklike pligte en wil finansieel onafhanklik word. Die egpaar en hulle seuntjie, Archie, sal na verwagting voortaan hulle tyd tussen Kanada en Engeland verdeel.

Nadat koningin Elizabeth ingestem het tot dié stap, was dit nogtans duidelik dat die gebruik van die Sussex Royal-titel steeds oorweeg moet word.

Daar sal waarskynlik ʼn amptelike aankondiging oor ʼn besluit wees wanneer die egpaar se nuwe liefdadigheidsorganisasie bekend gestel word.

Harry en Meghan gebruik reeds nie meer die titels van Sy en Haar Koninklike Hoogheid nie, maar behou dit wel. Dit laat die deur oop vir die paartjie, sou hulle besluit om later na die koninklike laer terug te keer. Harry se oorlede ma, Diana, is van dié titel gestroop nadat sy en prins Charles geskei is.

(Foto: Frank Augstein/AP)

Die twee se laaste amptelike pligte gaan na verwagting op 9 Maart wees en hulle kantoor by Buckinghampaleis sal van April gesluit wees. Hulle sal steeds ʼn huis in Engeland, naby Windsorkasteel, behou.

Bronne: Mailonline, AP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Chris ·

Ek wonder darem tog. Bloed is dikker as water. Tant Liesbet sal seker vir Herry so ietsie stuur elke maand. Die vrou weet ek nie van nie. Dit is mos die ou gesegde, grond kan jy koop, maar agtergrond nie.

Antoinette ·

Wat Megan wil he kry Megan.
Sy het n prins gekry , en nou kan sy nie geld maak op die HRH soos sy beplan het nie.
Haar pa was altyd reg oor haar en almal het hom as die sondebok uitgemaak.

Oujongvrou ·

Die pa het voor die huwelik gese sys n Madam wat net 5 jr met iets besig bly. Toe het hy gese die huwelik gaan net 5 jr hou. Arme Harry, ek kry hom jammer. Syt hom vervreem van sy familie, en dis baie hartseer.

Hansie slim ·

As hulle die pad wil vat, laat hulle begaan. Dit klink net of hulle so paar dingetjies wil behou, die agterdeur oop hou.
Die voordele is steeds groot en as dit nie werk nie…..wel..
Ou Charlie het ook al dramas gehad, Diana, die nuwe anti, die kinders…..iesh!!

Barney ·

Nou waar het julle gesien dat sy hom beinvloed het en nie andersom nie? As ek hy was sou ek ook wou wegkom. Moenie kritiek lewer en oordeel oor goed waarvan julle net deels inligting het nie. Aannames is ‘n gevaarlike ding. En buitendien, wat maak dit saak – dis hulle lewe

Magda ·

Stem met jou saam Heila – Hy het nog altyd n wil van sy eie gehad en ek glo bitter min dat Megan hom aan die oortrek om die besluit te neem. Oulike paartjie en wens hulle net die beste toe – Prins William was altyd my favourite, maar defniteif nie meer nie – Prins Harry is mees n mense mens en laat my baie aan Diana dink. Sy sou trots om hom gewees het as sy nie/-/- was nie – en ja ek glo dit nog altyd al is die bewyse maar skraal.

Chantel ·

Wat het hulle, oftewel, sy verwag gaan die monargie doen, toelaat dat sy “Royal” steeds kan gebruik. Wat presies het sy nie verstaan nie. Hierdie is glad nie vir my toevalig nie.

Jax ·

Jippieeeee. Hoop net dit is die laaste wat die wêreld van hulle hoor. Kan nie dink dat mense nog enige iets met die twee te doen Wil hê nie. Snow-flakes

koos10 ·

Harry het meer geld as wat hy kan spandeer en hulle gesigte is meer bekend as hulle handelsmerk.
Sy gaan weer flieks maak en Hollywood gaan oor hulle voete val om haar werk aan te bied. Miskien is daar nog plek vir ‘n rooikop as ‘n ekstra op die stel ook?

Niklaas ·

Ons moet nie verbaas wees as sy weer die film wereld betree nie . Dis mos soms altyd in mens se bloed. En Harry sal haar seker nie teëgaan nie. Laat ons kyk wat gebeur.

RS ·

Hy het steeds n handvol geld sekerlik van sy ma se kant. Hulle sal nie honger lei nie en asb hou hulle daar oor die water.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.