Swaar reën ure voor supersikloon Amphan

Donker wolke hang Woensdag oor die promenade aan die kus van die Golf van Bengale in Orissa, Indië. (Foto: AP)

Swaar reën het Woensdagoggend oor die kusgebiede van Indië en Bangladesj uitgesak en bome in sommige dele is reeds ontwortel. Supersikloon Amphan gaan na verwagting dié twee lande teen laatmiddag of vroegaand tref.

CNN berig supersikloon Amphan woed tans in die Golf van Bengale en sal na verwagting binne die volgende ses tot twaalf ure aan land kom. Dit sal nog swaar reën van sowat 300 mm in ’n kort tydperk meebring.

Maroela Media het vroeër berig daar word verwag dat die sikloon die grens van Indië en Bangladesj naby die Indiese stad Kolkata eerste gaan tref. Dié stad het sowat 14 miljoen inwoners.

In die oostelike Indiese deelstaat Wes-Bengale is meer as 300 000 mense intussen verskuif in voorbereiding op die sikloon.

Meer as 3 miljoen mense reg oor Indië en Bangladesj is reeds na sikloonskuilings verskuif. Tog is sommige van die skuilings net tot die helfte van hul kapasiteit gevul weens kommer oor die handhaaf van sosiale afstand te midde van die Covid-19-pandemie.

‘n Boom is reeds ontwortel in Chandbali aan die kus van die Golf van Bengale. (Foto: AP Photo)

BBC berig skole en universiteite in Indië en Bangladesj is nou noodgedwonge as sikloonskuilings ingerig om meer mense te kan inneem.

Kommer heers egter nou oor Cox’s Bazar, die grootste vlugtelingkamp ter wêreld, in Bangladesj. Dié vlugtelingkamp huisves bykans een miljoen Rohingya-vlugtelinge en blyk in die pad van sikloon Amphan te wees.

‘Orkane, tifone en siklone word al hoe sterker’

‘n Satellietbeeld deur NASA toon supersikloon Amphan oor
(NASA Worldview, Earth Observing System Data and Information System (EOSDIS) via AP)

ʼn Nuwe studie toon dat orkane, tifone en tropiese siklone oor die wêreld heen al sterker en moontlik dodeliker word. Dit is glo omdat die aardbol warmer word as gevolg van die klimaatskrisis.

Die studie, wat Maandag deur navorsers aan die Universiteit van Wisconsin in Madison en die National Oceanic and Atmospheric Administration (NOAA) vrygestel is, het ongeveer 40 jaar se satellietdata van wêreldwye storms bestudeer, berig CNN.

Die studie het bevind dat die waarskynlikheid dat storms ’n groot orkaanstatus, kategorie 3 of hoër op die Saffir-Simpson-skaal sal behaal, met winde van meer as 110 km per uur, die afgelope dekades toegeneem het.

“Die verandering is ongeveer 8% per dekade. Met ander woorde, ’n orkaan is in sy leeftyd 8% meer geneig om ’n groot orkaan in hierdie dekade te wees in vergelyking met die vorige dekade,” het Jim Kossin, skrywer van die studie, verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

Soos ek gister gesê het laat hulle eerder mense in die storm omkom as om almal te probeer red. Solank mense net nie te naby aan mekaar kom om moontlik die virus te verspei nie. Hoe siek het die wêreld nie geword nie. Jy kan enigiets makeer en maar daarvan doodgaan maar moet tog nie Corona hê of lyk of jy dit dalk kan hê nie.

Jacobus ·

Bangladesh lê grotendeels op ‘n rvier delta met baie lae reliëf. Die storm word tussen Indië en Myanmar getregter reg op die delta af.
Problematiese situasie – die riviere wat die delta uitmaak en die land tussenin is ongelukkig die lewensbloed van daai land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.