Swaarste reënval in jare blus Aus-brande

‘n Brandbestryder blus Sondag vlamme naby Bredbo, suid van Canberra.(Foto: Rick Rycroft, AP)

Die swaarste reënval in 30 jaar in Sydney, Australië, het twee brande wat al maande lank woed uiteindelik geblus.

Die Currowan-brand is oor die naweek geblus nadat dit 74 dae lank in die omgewing van die stad Shoalhaven gewoed en byna 500 000 hektaar en 312 huise vernietig het.

Ook die Gospersberg-brand noordwes van Sydney is uiteindelik geblus nadat dit sedert Oktober verwoesting gesaai het. Dié brand is voorheen beskryf as “te groot om te blus”.

Die reën het ook brande in Myall Creek Road, Erskine Creek, Kerry Ridge, Green Wattle Creek en Morton geblus.

Die swaar reën hou egter nou ander uitdagings vir die streek in nadat net minder as 400 mm reën die afgelope vier dae in Sydney uitgesak het. Minstens 200 mense is oor die naweek na veiligheid gebring in dié stad.

‘n Vrou loop Vrydag in die reën in Sydney. (Foto: Rick Rycroft, AP)

Die plaaslike owerhede het Maandagoggend na ’n man gesoek wat in sy motor was toe dit op ’n brug deur vloedwater meegesleur is. Vier ander mense is Sondag beseer toe ’n boom op hulle motor geval het.

Sowat 100 000 huishoudings moet tans sonder elektrisiteit klaarkom en inwoners is gevra om hul te staal vir kitsoorstromings in die komende dae. Verskeie skole is vanoggend gesluit.

Die groter Sydney-area se damvlakke staan tans op 64,2% vergeleke met 41,9% verlede week.

Luidens inligting woed daar nog 31 brande reg oor Australië. Die brande hou egter nie onmiddellike gevaar in nie.

Bronne: The Guardian, BBC, ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SJME ·

En nogsteeds is hul harte verhard…

Hoe groot is die werke en genade van ons Maker en Verlosser!

Andre ·

Ag my mens. Die natuur doen dieselfde aan beide gelowige en ongelowige.

Leon ·

Nou is al die plantegroei verwoes en daar is niks om die water terug te hou nie. Nou kom oorstromings en verspoelings. Eish.

Riekie ·

Ek is seker die plante gaan nou floreer , ten spyte van die brande behoort die wortels weer te groei.

madels ·

Ek glo met my hele hart dat die Here duisende mense wat gebid het, se gebede verhoor het. Dankie Here..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.