‘Swart boks’ gevind ná Indonesiese vliegtuig neerstort

Die opnemer wat opgespoor is (Foto: Adek Berry, AFP)

Duikers het ʼn swart boks (vlugdata-opnemer) van die passasiersvliegtuig van ʼn Indonesiese laekoste-lugredery teruggevind. Hierdie ontdekking kan kernleidrade bied om te verklaar waarom die vliegtuig met 62 mense aan boord in die see neergestort het.

Ondersoekbeamptes op ʼn vlootskip het sterk seine begin waarneem uit ʼn gebied waar hulle gesoek het, en duikers kon die boks binne ongeveer ʼn uur van die vliegtuigwrak vind.

Die data op die swart boks bevat inligting oor die spoed, hoogte en rigting van die vliegtuig, asook opnames van gesprekke van vlugpersoneel. Volgens lugvaartkenners help hierdie data om byna 90 persent van alle ongelukke te verklaar.

Soos vroeër berig, was altesaam 50 passasiers onder wie tien kinders en 12 bemanningslede aan boord van Sriwijaya Air se Boeing 737-500 toe dit Saterdagmiddag by Djakarta se Soekarno-Hatta Internasionale Lughawe opgestyg het.

Die vliegtuig was onderweg na die stad Pontianak op die eiland Borneo, maar het vier minute ná vertrek kontak met die beheertoring verloor. Die omgewing in die Java-see waar die vliegtuig neergestort het, is Sondagoggend deur die Indonesiese weermag bevestig waarna duikers ontplooi is om na die wrak te soek.

Owerhede kon sover nog nie verduidelik waarom hierdie 26 jaar oue vliegtuig slegs vier minute ná vertrek neergestort het nie.

Die ligging van die vlugopnemers is wel Sondag bepaal – die opnemers wat vlugdata asook stemme in die kajuit opneem – maar die tweede vlugopnemer is tans nog nie opgespoor nie. Die opsporing hiervan sal deurslaggewend wees om te verduidelik hoekom die vliegtuig in die Java-see neergestort het.

Sowat 3 600 personeellede neem deel aan die soektog, bygestaan deur tientalle bote en helikopters wat oor klein eilande aan die kus van die hoofstad vlieg.

ʼn Ondersoeker vir die vervoerveiligheidsagentskap het gesê die bemanning het nie ʼn noodgeval verklaar of tegniese probleme met die vliegtuig gemeld voor die neerstorting nie, asook dat die vliegtuig waarskynlik ongeskonde was toe hy die water getref het.

Families wag vir ʼn wonderwerk

Reddingswerkers bring die oorskot van slagoffers van die vliegramp na die lughawe. (Foto: Aditya Aji/AFP)

Talle liggaamsakke gevul met menslike oorskot is na ʼn lykshuis van die polisie gebring waar forensiese ondersoekers hoop om slagoffers te identifiseer deur vingerafdrukke of DNS met oorledenes se familielede te pas.

“Ons kan dit nog nie aanvaar nie,” het Inda Gunawan gesê oor sy broer Didik Gunardi wat op die vlug was.

“Ons gesin hoop steeds op ʼn wonderwerk dat hy nog leef.”

Owerhede het vlugkelner Okky Bisma (29) as die eerste bevestigde slagoffer geïdentifiseer nadat die vingerafdrukke van ʼn hand wat opgespoor is met dié in ʼn databasis van die regering ooreengestem het.

“Rus in vrede daar en wag vir my in die hemel,” het Bisma se vrou, Aldha Refa, op Instagram geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.