Sweedse premier bedank ure ná aanstelling

Magdalena Andersson van Swede. (Foto: Pontus LUNDAHL / AFP)

Swede se nuutverkose eerste minister, Magdalena Andersson, het Woensdag haar bedanking ingedien slegs ure nadat sy in die amp aangestel is. Dít nadat haar begroting nie geslaag het nie en haar koalisievennoot, die Groen Party, uit die regering bedank het.

Andersson het enkele ure voor haar bedanking geskiedenis gemaak toe sy die eerste vrou geword het om as eerste minister van Swede gekies te word. Sy sou Vrydag formeel oorneem.

Die 54-jarige ekonoom, wat die afgelope sewe jaar as minister van finansies gedien het, hoop egter om binnekort weer tot dié pos verkies te word as die hoof van ʼn minderheidsregering wat slegs uit die Sosiaal-Demokrate bestaan.

“Daar is ʼn grondwetlike praktyk dat ʼn koalisieregering moet bedank wanneer een party bedank,” het Andersson, ʼn Sosiaal-Demokraat, aan verslaggewers oor haar bedanking gesê.

“Ek wil nie ʼn regering lei wie se geldigheid en bestaansreg bevraagteken sal word nie.”

Andersson is toe net ure vantevore tot eerste minister verkies nadat sy op die nippertjie ʼn ooreenkoms rakende pensioene met die Linkse Party beklink het in ruil vir dié party se steun in Woensdag se stemming in die parlement.

ʼn Ander party het egter daarna sy steun vir Andersson se begroting onttrek wat haar begroting met onvoldoende stemme gelaat het om in die parlement te slaag. ʼn Alternatiewe begroting is eerder aanvaar wat deur die opposisie-konserwatiewe Gematigdes, Christen-Demokrate en verregse Swede-Demokrate aangebied is.

Die Groen Party het kort daarna die regering verlaat. Per Bolund, partyleier, het gesê sy party kan nie die opposisie se “historiese begroting, wat vir die eerste keer saam met die regses opgestel is,” duld nie.

Andreas Norlen, speaker van die parlement, het intussen gesê hy aanvaar Andersson se bedanking en sal met partyleiers beraadslaag voordat daar oor die pad vorentoe besluit word.

Swede se grootste dagblad, Dagens Nyheter, het intussen berig die wending van gebeure kan inderwaarheid steeds voordelig vir Andersson wees.

“Die Sosiaal-Demokrate kan al die kabinetsposte beklee en al die kompromieë met die Groen Party vermy,” lui die berig.

  • Andersson het vroeër vandeesmaand as leier van die Sosiaal-Demokrate by Stefan Lofven oorgeneem nadat hy op 10 November bedank het. Lofven het sewe jaar lank as eerste minister van Swede gedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

As hulle so optree as hulle nie hul sin kry nie, kan jy dink hoe hulle sou optree indien hulle in beheer was?

Suzette

Hoekom het sy haar dan in eerste plek verkiesbaar gestel????

Samuel

Politiek is ‘n gemene spel.

Dries

BEDANK ???? So iets sal nooit in SA gebeur nie. Kriminele politici sal nie eers op skuldigbevinding bedank nie

JohanR

Kan ons die ANC Swede toe stuur om te leer? ‘n ANC bedank! Nog nooit gesien nie.