Swendelaar agter ‘Inventing Anna’ hou kykers vasgenael

(Foto: Shondaland)

Was Anna Delvey net ʼn waaghalsige entrepreneur met al die regte skuiwe, of was sy ʼn geswore swendelaar?

Inventing Anna hou kykers aan die raai oor die waarheid terwyl hulle ʼn joernalis volg wat op die spoor van Delvey is, ʼn jong vrou wat die hele New York se elite oortuig het sy is ʼn Duitse rykmansdogter.

Dié reeks wat vroeër die maand op Netflix begin wys het, het sosialemediagebruikers behoorlik aan die gons. Dit is boonop nog ʼn aflewering deur Shonda Rhimes, wat ook aan die stuur van bekende reekse soos Grey’s Anatomy, Bridgerton en How to Get Away with Murder was.

Die storie word vertel uit die oogpunt van ʼn Vivian Kent, ʼn joernalis wat agter die kap van die byl wou kom. Kent is swanger in die reeks en het met alle mag en mening die storie gevolg en nagejaag.

Anna Delvey, ook bekend as Anna Sorokin, het in New York se rykste kringe beweeg sonder om rekeninge te betaal, almal laat glo dat sy Duitse adel is en selfs banke ingeloop met miljoene dollar vir haar pypdrome.

In die reeks word Delvey se fyn bedrade web van leuens uitgebeeld deur terugflitse tydens die onderhoude wat sy aan Kent toestaan. Hier sien die kykers haar in die vaal gevangenisgewaad wat sy tydens haar tyd in die Rikers Island-gevangenis moes dra, in skerp teenstelling met haar lewe as sosiale vlinder in Manhattan, New York.

Die ware Anna Delvey

Elke episode van die warboel van ʼn reeks begin met die volgende: “This whole story is completely true. Except for all the parts that are totally made up.”

Dit sinspeel natuurlik op die feit dat die reeks ’n mengsel van feit en fiksie is. Dit het ook betrekking op die leuens wat Delvey opgedis het, en kykers moet behoorlik kophou om die koring van die kaf in die reeks te onderskei.

Die reeks is geskoei op die lewe van Sorokin wat in 1991 in Domodedovo, ʼn dorpie suid van Moskou, gebore is. Sy het grootgeword in ʼn gemiddelde Russiese huishouding waar geld nie altyd beskikbaar was nie. Later sou die gesin na Duitsland verhuis.

In 2011 het sy begin rits tussen Londen, Berlyn en Parys op soek na ʼn lewe wat aan haar standaarde sou voldoen. Dit was ook in dié jare dat sy haarself as Anna Delvey begin voorstel het. Delvey was volgens haar haar ma se nooiensvan, maar sy sou later erken dat dit bloot net nog ʼn fopstorie was.

Tussen 2013 en 2017 het sy haarself voorgedoen as erfgenaam wie se rykdom skynbaar oberekenbaar was.

In 2013 het sy gaan werk vir ʼn modetydskrif in Parys, Frankryk. Sy het ook in daardie jaar die New Yorkse modeweek bygewoon, en dit was net daar wat sy besluit het om na New York te verhuis.

Die aktrise Julia Garner, wat die rol van Delvey vertolk, het in ʼn onderhoud verduidelik dat sy ʼn Russiese, Duitse en Amerikaanse aksent gemeng het om Delvey se eiesoortige aksent na te boots.

Tydens die paar jaar wat Delvey tussen New York se elite deurgebring het, het sy een na die ander bedrieg. Sy het haar vriende en vriendinne, talle hotelle en selfs banke duisende dollar gekos.

Kent se karakter is gegrond op die skryfwerk van Jessica Pressler, die joernalis wat die web wat Delvey gespin het ontrafel het.

Pressler het soos Kent in die reeks uit haar pad gegaan om onderhoude te voer met Delvey en mense romdom haar.

Waar is sy nou?

In 2019 is die Delvey tot vier jaar tronkstraf gevonnis. Sy moes ook ʼn boete van $24 000 (sowat R 363 443) betaal, en $200 000 (meer as R3 miljoen) bestee op terugbetalings aan haar slagoffers.

Sy is egter in Februarie 2021 vrygelaat op grond van goeie gedrag in die gevangenis.

Die VSA se immigrasieowerheid het Delvey egter kort ná haar vrylating vasgetrek en sy is tans nog in aanhouding en wag om na Duitsland gedeporteer te word.

Netflix het ʼn beduidende bedrag van $320 000 (sowat R4,8 miljoen) aan Delvey betaal vir die regte om haar storie as TV-reeks te vertel.

Kyk die lokprent van Inventing Anna hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MandaPanda ·

Ek het ‘n persoonlike reel om niks te kyk waarin daar gelaster word nie. Was sommer dubbel vies toe ek die moes afsit!
Wat kan mens deesdae kyk waar die Here se naam nie ydelik gebruik word nie?

Janine ·

Dit was een van die beste stories! Het die hele series in 2 dae gekyk.

Misky ·

Gaan beslis kyk!!! Sy het dan meer geld verdien deur die storie aan Netflix te verkoop as wat sy moes betaal aan boetes en terugbetalings aan slagoffers. Joh!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.