Swerm bye ontwrig politieke byeenkoms

Argieffoto (Foto: PollyDot, Pixabay)

ʼn Verkiesingsveldtog, deur die voormalige Colombiaanse president Alvaro Uribe, is Saterdag vinnig beëindig toe die groep persone deur ʼn swerm bye aangeval is.

Die bye het op die kiesers in La Loma, ongeveer 600 km noord van Bogota, toegesak, net voor Uribe ʼn toespraak kon lewer ter ondersteuning van die konserwatiewe presidensiële kandidaat, Ivan Duque.

Minstens 70 persone is deur die bye gesteek en 15 moes na ʼn hospitaal geneem word, berig die plaaslike koerant El Tiempo.

Hidalfo de la Cruz, burgemeester van La Loma, het gesê dis moontlik dat die bye gesteur is deur die geraas van ʼn helikopter of die rook van ʼn brand op ʼn nabygeleë landingstrook. “Ons kan nie sabotasie uitsluit nie,” het hy gesê.

Die bye is na bewering ʼn kruising tussen ʼn Europese heuningby en ʼn wilde by uit Afrika.

Uribe het ʼn video van homself gepubliseer by die hospitaal waar die slagoffers behandel word en hy het die mediese personeel bedank vir hul ondersteuning. Volgens hom sterk die pasiënte aan.

Die presidensiële verkiesing in Colombia tussen Duque en Gustavo Petro vind op 17 Junie plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moeg ·

By uit Afrika? O gatta pattatta, dan is dit ook weer Oom Jan v Riebeeck se skuld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.