Swerm bye val begrafnisgangers aan

Argieffoto

Argieffoto

Meer as 30 mense is beseer toe ʼn swerm bye ʼn groep roubeklaers by ʼn begrafnis aangeval het.

Die roubeklaers moes die kis by die kerk verlaat om voor die swerm bye te vlug. Die voorval het Sondagoggend vroeg by ʼn kerk in Tsholotsho in Zimbabwe plaasgevind toe een van die roubeklaers, wat die kamer wou verlaat, teruggekeer het met die kwaai bye wat hom agtervolg.

“Voor ons weet wat gebeur, het die mense begin skree en in verskillende rigtings begin hardloop,” het Cecelia Chivi, een van die lidmate, aan die Chronicle-koerant in Bulawayo gesê. “Ons het die kis net so laat staan, aangesien almal vir hulle lewe gehardloop het.”

Chivi het gesê sy het nog nooit so ʼn groot swerm bye gesien nie. “Ek glo almal leef nog danksy God se genade,” het sy gesê.

Personeellede van die begrafnisondernemer moes hul voertuie gebruik om kerkgangers na die hospitaal te vervoer met geswolle gesigte, hande, rûe en bene, het die koerant berig.

Die begrafnis het twee ure later hervat nadat die bye die gebou verlaat het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.