Switsers na stembus oor ‘boerka-verbod’

‘n Veldtogplakkaat ten gusnte van die verbod. (Foto: Fabrice Coffrini/AFP)

Switserland het Sondag gestem oor die kwessie of die land volle gesigbedekkings in openbare ruimtes moet verbied – en die uitslag is oënskynlik op ʼn mespunt gebalanseer.

Nadat stempunte vandag teen 13:00 gesluit het, was voorspellings dat 51% van die kiesers ten gunste van die verbod gestem het.

Die sogenaamde teen-boerka-stem kom ná jare lange debat in Switserland en volg op soortgelyke verbodsbepalings in ander Europese lande – hoewel dit baie skaars is om vroue wie se gesig ten volle bedek is, in Switserland se strate te sien.

Hoewel die voorstel “Ja vir ʼn verbod op volle gesigbedekking” nie spesifiek na ʼn boerka of nikab (dit laat die oë oop) verwys nie, is daar geen twyfel oor waaroor die debat handel nie.

Sommige veldtogplakkate lui “Stop radikale Islam” en “Stop ekstremisme”, terwyl ander plakkate lui “Nee vir ʼn absurde, nuttelose en Islamofobiese teenboerka-wet”.

Indien dit slaag, sal die verbod beteken geen vrou mag haar gesig in die publiek heeltemal bedek nie – of dit nou in ʼn winkel of op die platteland is. Daar sal egter uitsonderings toegelaat word, soos in aanbiddingsplekke.

ʼn Opname wat in 2019 gedoen is, het bevind sowat 5,5% van Switserland se bevolking is Moslems, hoofsaaklik afkomstig van die voormalige Joegoslawië.

Die regering en parlement het ʼn landwye verbod teengestaan. Hulle teenvoorstel – wat outomaties in werking gestel word as die sogenaamde teen-boerka-voorstel misluk – is dat mense hul gesigte aan die owerhede moet wys indien dit nodig is. Dit sluit in vir uitkenningsdoeleindes soos by grensposte.

Ingevolge Switserland se stelsel van regstreekse demokrasie kan daar oor enige onderwerp gestem word, solank dit 100 000 handtekeninge in dié welvarende land met sy nagenoeg 8,6 miljoen burgers kan trek.

Daar word elke drie maande gestem. Om te slaag moet ʼn meerderheid kiesers landwyd die voorstel steun, en ook ʼn meerderheid van federale Switserland se 26 kantons. Ses daarvan tel as halwe-kantons wanneer gestem word.

In 2009 het die land teen die oprigting van minarette by moskees gestem – ʼn besluit wat wêreldwyd tot woede gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Friedrich

As jy ‘n burka wil dra, gaan bly in die midde ooste

Dries

Jy kan sien hulle het nie die probleme wat SA het nie. Hou referendums oor beuselagtighede

Hennie J

Lig jou hoed vir die Switsers. Die burka-draers is maar net n sekte in die groter moslem geloof wat geen geloofs- of regsgeldigheid het nie. Ons is mos so bang ons doen die verkeerde ding, ons laat eerder ons eie waardes ten gronde gaan as om op te staan vir wat ONS GLO.

Samuel

Die Switserse burgers toon hulle het moed!! Oppas dat die Suid-Afrikaanse MRK julle nie beetkry nie. Welgedaan, Switserland.

JohanR

Daar het al mans ‘n burka gedra met ‘n bom om die lyf. Wys jou gesig. Jy hoef nie ‘n burkan te dra maar kan net jou hare toemaak, sodat jou gesig nog wys.