Switserse sjokolade se verkope minder soet

Lindt-sjokoladesmeer (Foto: Instagram via Lindt)

Switserse sjokoladeprodusente se verkope van sjokoladeprodukte was verlede jaar die laagste in 40 jaar. Dit nadat produsente verwag het dat hul verkope goed sou wees juis omdat mense tydens die Covid-19-pandemie hulle na trooskos gewend het.

Chocosuisse, die nasionale federasie van Switserse sjokoladevervaardigers, het vandeesweek ’n donker prentjie geskets van die impak wat die pandemie op die bedryf gehad het, met ʼn skerp daling in produksie, uitvoer en selfs verbruik.

Lindt & Sprüngli, een van die bekendste sjokoladeprodusente van die welgestelde Alpe-nasie, het Dinsdag in sy jaarresultate aangedui dat hul inkomste vir verlede jaar met byna 11% gedaal het.

Volgens Chocosuisse was daar sedert 2019 ’n 10%-daling in produksie.

Te midde van die inperking en ’n ekonomiese krisis wat verlede jaar deur die pandemie aangewakker is, is dit miskien nie verbasend dat Switserse sjokoladeprodusente hul produksie in die algemeen sien daal het nie.

Die uitvoer van sjokoladeprodukte, wat byna 70% van die sjokoladeprodusente se inkomste uitmaak, het met 11,5% gedaal.

Meer verrassend is miskien dat die verbruik van sjokoladeprodukte in Switserland self ook beduidend gedaal het. Die jaarlikse verbruik van sjokoladeprodukte in die land het tot onder 10 kg per persoon gedaal, en het vir verlede jaar op 9,9 kg per persoon gestaan – die laagste sedert 1982. Die verbruik per sjokolade in ’n land word bereken deur die volume wat verkoop word deur die aantal inwoners te deel.

Urs Furrer, hoof van Chocosuisse, het gesê die afname in buitelandse toeriste het veral tot hierdie daling bygedra. Hy sê egter dit sou onmoontlik wees om die presiese verbruik van inwoners te bereken, want winkels weet nie altyd of die verkopers in Switserland woon of toeriste is nie.

Furrer sê dit is nie slegs die afwesigheid van toeriste wat tot die daling in die verbruik van sjokoladeprodukte bygedra het nie. In Switserland, net soos in die res van die wêreld, het die gesondheidskrisis en gepaardgaande beperkings ’n duidelike impak op verbruiksgewoontes gehad.

“Die verbruik het gedaal in gebiede wat gewoonlik baie voete gehad het, soos treinstasies en winkelsentrums,” sê Furrer.

Vereistes vir die handhawing van fisieke afstand het ook ’n tol by sosiale geleenthede geëis waar bokse sjokolade gewoonlik oorhandig was.

“Die verkoop van geskenkdosies met pralines het ook afgeneem.”

Intussen het die verkoop van rou produkte soos sjokolade-massas, wat gewoonlik deur sjokolateurs, bakkerye en patisseries gebruik word, verlede jaar gestyg namate meer amateurs hul eie lekkers tuis wou maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

DieKriek ·

Ek het in Switzerland sjokolade gekoop. Dit was vrek duur en ons Suid Afrikaanse produkte is baie lekkerder.

Anel ·

Dir is van die lekkerste sjokolade. Net jammer dit is te duur vir ons.

Alta Alleman ·

Julle kan maar ophou stres Lindt…10% verlies gaan julle nie bankrot maak nie…julle het nog miljoene in die bank.

Estelle ·

Maak Lindt sjokolade bietjie goedkoper, dan koop ons dalk ook daarvan.

Althes ·

Lekkergoed en sjokolade het onbekostigbaar geword vir die gemiddelde Suid-Afrikaner. Ek glo alle verkope daarvan daal in SA.

Regverdigheid ·

Lindt is heerlik maar prys is te hoog , maak dit goedkoper .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.