Switserse vrou dood by strandoord gevind

Argieffoto van Phuket ter illustrasie. (Foto: Lillian SUWANRUMPHA / AFP)

Die polisie in Thailand ondersoek die vermeende moord op ’n Switserse vrou wie se liggaam naby ’n waterval by ’n gewilde strandoord gevind is.

Nicole Sauvain-Weisskopf, ’n Switserse regeringsamptenaar, se liggaam is Donderdag toegedraai in ’n swart laken in die water tussen rotse op die eiland Phuket gevind. Haar selfoon, kortbroek en tekkies is nie ver daarvandaan nie gevind.

Die vermeende moord laat ʼn donker wolk hang oor Phuket se sogenaamde Sandbox-loodsprojek, waarmee gepoog word om Thailand se toerismesektor ’n hupstoot te gee ná meer as ’n jaar van drakoniese reisbeperkings.

Die 57-jarige Sauvain-Weisskopf het na bewering na Phuket gereis as deel van die projek wat ingeënte reisigers in staat stel om die eiland te besoek sonder om vir twee weke in een van Thailand se hotelle te isoleer. Meer as 16 000 mense het reeds na Phuket gereis sedert die bekendstelling van die Sandbox-projek op 1 Julie.

Die Bangkok Post berig Sauvain-Weisskopf was ’n assistentprotokolhoof van die Federale Vergadering van Switserland.

Dit word vermoed dat sy minstens drie dae gelede dood is. Die uitslag van die lykskouing word eers later vandag (Vrydag) verwag.

Die goewerneur van Phuket, Narong Woonciew, het intussen onderneem om “alles in sy vermoë te doen om die moord te ondersoek en reg te laat geskied aan mevrou Nicole”.

Andrea Kotas Tammathin, Switserse erekonsul in Phuket, het dit as “’n hartseer, hartseer dag vir die Phuket-gemeenskap” bestempel, terwyl die premier van Thailand, Prayut Chan-o-cha, sy meegevoel met die familie van die slagoffer betuig het.

Die premier het by monde van ’n woordvoerder gevra om gereeld op hoogte gehou te word van die ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ES ·

Dis baie snaaks, Phuket is baie veilig, tensy jy na plekke gaan waar jy nie behoort te wees nie.

Harley Davidson ·

Dit is groot nuus in Thailand, ‘n vrou is dood,in Suid-Afrika is ons al so gewoond aan die tipe van misdaad en is dit so alledaags dat ons dit maar net aanvaar

Toy ·

Jasper ons moet net nooit gewoond raak daaraan nie, want dan is daar nie meer simpatie met iemand se dood en dit is hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.