Sydney toe onder stofkombers

Die stofstorm het ontstaan naby die myndorp Broken Hill in die weste van Nieu-Suid-Wallis, sowat 900 km wesnoordwes van Sydney, waarheen dit intussen aangewaai het. Foto: Facebook

ʼn Enorme stofstorm oorweldig gemeenskappe dwarsoor die suidooste van Australië en verkleur die lug oranje terwyl kommer heers oor luggehalte.

Die owerheid het ʼn gesondheidswaarskuwing vir Sydney vir Donderdag uitgereik terwyl die 500 km breë stofstorm die hoofstad van Nieu-Suid-Wallis (NSW) begin bereik, berig die BBC.

In baie ander dele van die staat word sigbaarheid erg benadeel.

Tony Gately, van NSW se ambulansdiens, sê ekstra paramedici is beskikbaargestel om in die verhoogde behoefte aan hul diens te voorsien, berig die dagblad Sydney Morning Herald.

“Ons het vandag reeds gereageer op 90 gevalle van asma of asemhalingsprobleme oral in Sydney, wat ʼn aansienlike toename is,” het hy Donderdag gesê. “Enigeen met asemhalingsprobleme moet op hul hoede wees.”

Hy het gesê mense moet die waarskuwings oor die stofstorm ter harte neem omdat die ambulansdiens sowat agt oproepe per uur kry van mense wat sukkel om asem te haal.

Anita Payne, weervoorspeller, het gesê dis ʼn “enorme stelsel” wat in Sydney se rigting beweeg, berig die Britse dagblad The Guardian.

Volgens haar is kleiner stofstorms in NSW se binneland nie ongewoon nie, maar die huidige storm se grootte is “buitengewoon”.

“Stofstorms oor die kusgebiede is uitsonderlik omdat dit soveel verder van die dorre weste van die staat is en omdat ons die Groot Australiese Skeidingsgebergte in die pad daarvan het,” het sy gesê.

Die storm sal na verwagting eers teen Vrydag se kant aan die kus bedaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Puma ·

Vir ons in die Vrystaat is die iets wat ons elke Augustus en September sien.

Johan H. ·

Mooie foto. Ons land is ook toe onder n kombers maar dis nie stof nie,!

ME ·

Hierdie foto is geneem in 2009. Praat van fopnuus. Dalk moet daar net genoem word dat dit ‘n argief foto is? My dogter stuur my vanoggend ‘n foto van helder blou lug met een enkele wolk strepie vanaf NSW – groot verskil!

Marisca ·

Tans in Australië sowat 140km Noord van Sydney, wind het vandag erg gewaai en die stof het teen laat middag bedaar (dis 23:55 hier) . Def niks soos die foto nie maar die sinusse is lekker omgekrap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.