Talle beseer, dorpe beskadig in aardbewing

‘n Skermgreep van die beeldmateriaal wat op 18 Februarie van die Iraanse staat TV IRIB verkry is (Foto: AFP PHOTO / HO / IRIB NEWS”)

Tientalle mense is beseer toe ʼn aardbewing Woensdagaand die suidwestelike dele van Iran getref het.

Dié kragtige aardbewing van 5,4 het omstreeks 22:05 digby die dorpie Sisakht, in die bergagtige distrik van Kohgilouyeh en Boyer-Ahmad, plaasgevind.

Altesaam 32 mense is beseer, waarvan twee in ʼn kritieke toestand is. Wydverspreide skade is aan geboue, infrastruktuur en huise in altesaam 78 omliggende dorpe aangerig. Sommige huise lê heeltemal in puin.

Een van die beseerdes word op ‘n draagbaar vervoer (Foto: AFP PHOTO / HO / IRIB NEWS”)

Die omvang van die aardbewing was só groot dat die meeste inwoners die nag buite deurgebring het uit vrees vir naskokke.

Iran is op die grens van verskeie groot tektoniese plate geleë en ervaar gereeld seismiese aktiwiteite.

In Junie verlede jaar is een persoon dood en meer as 20 beseer toe ʼn aardbewing in die omgewing van Berg Damavand, die hoogste bergpiek in Iran, voorgekom het. Hierdie berg is net oos van die hoofstad, Teheran, geleë.

ʼn Jaar gelede is minstens nege mense in die ooste van Turkye dood toe ’n aardbewing van 5,7 die weste van Iran getref het.

Iran se dodelikste aardbewing, wat die land in 1990 getref het, het 7,4 gemeet. Altesaam 40,000 mense is destyds in die noorde van die land dood, 300 000 beseer en ʼn halfmiljoen is dakloos gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.