Talle beseer in aardbewing naby Japan

Grafika: USGS

Meer as 100 persone is beseer tydens ʼn aardbewing van 7.1 naby Fukushima in die ooste van Japan, het owerhede Sondag gesê. Dit volg sowat ʼn dekade ná ʼn verwoestende aardbewing, tsoenami en kernramp op 11 Maart 2011.

Geen sterftes is aangemeld nie en geen tsoenami-waarskuwing is uitgereik nie. Daar is ook nie enige abnormaliteite by die Fukushima-kernaanleg opgemerk nie.

Inwoners wat besig was met voorbereidings vir die 10de herdenking van die driedubbele ramp het gesê hulle het geskrik tydens die aardbewing Saterdagaand. Die Japannese meteorologiese agentskap (JMA) het gesê die aardbewing word beskou as ʼn naskok van die groot skudding in 2011.

Die rampagentskap het gesê 114 beserings, waaronder ses persone wat ernstig beseer is, is in die streek en rondom Tokio aangemeld, waar die aardbewing net ná 23:00 sterk gevoel kon word.

Owerhede stel ondersoek in oor die impak van ʼn grondstorting op ʼn snelweg, het ʼn woordvoerder vir die regering gesê. Skade is ook aangemeld aan agt strukture, hoofsaaklik huise, terwyl plafonne by verskeie geboue ineengestort het.

Katsunobu Kato, woordvoerder vir die regering, het inwoners gewaarsku oor die moontlikheid van sterk naskokke in die volgende week en verdere grondstortings weens swaar reën wat voorspel word.

Japan is steeds besig om die verspreiding van Covid-19 te bekamp terwyl die land voorbereidings tref vir die Olimpiese Spele wat na verwagting in Julie sal begin.

Kato het gesê meer as 250 persone het teen Sondagoggend reeds by 173 noodskuilings in Fukushima en omliggende streke aangemeld. Sosiale distansiëring word toegepas, soos tente vir elke gesin. Talle het vermoedelik reeds teruggekeer huis toe, het hy bygevoeg.

Die JMA het gesê die aardbewing het op ʼn diepte van 60 km plaasgevind. Die Amerikaanse Geological Survey het die aardbewing op ʼn diepte van 51 km geregistreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.