Talle beseer in beweerde terreuraanval in Londen

Foto: AP/Kirsty Wigglesworth.

Talle mense het brandwonde opgedoen tydens ʼn brand op ʼn volgepakte trein Vrydagoggend tydens spitstyd in een van Londen se ondergrondse treinstasies.

Die voorval het omstreeks 08:20 in die Parsons Green-stasie in die weste van Londen plaasgevind. Londense metropolisie het gesê dit is nog te vroeg om die oorsaak van die brand te bevestig, maar dat dit ondersoek word.

Neil Basu, die senior nasionale koördineerder vir Londen se teenterreur-beleid, het die voorval in ʼn verklaring as ʼn terreuraanval bestempel. Volgens plaaslike nuusberigte het mense brandwonde aan hul gesigte opgedoen en is ander beseer in ʼn stormloop wat ná die brand gevolg het.

ʼn Onbevestigde foto van ʼn wit emmer in ʼn sak met drade wat bokant die sak uitsteek en aan die brand is op ʼn treinvloer doen tans die ronde op sosiale media. Daar word beweer dat dié emmer in die trein ontplof het, maar dié bewering is nog nie deur owerhede bevestig nie.

Ooggetuies het vertel hoe hulle net skielik ʼn harde geluid gehoor het.

Ola Fayankinnu, ʼn passasier in die tweedelaaste wa van die trein, het gesê toe sy agtertoe kyk was daar net oral vlamme. “Daar was fone, hoede en sakke oral. Mense het gehuil en sommiges was beseer,” het Fayankinnu gesê.

Een vrou het buite die stasie gesit met haar been in ʼn verband en ʼn ander is op ʼn draagbaar weggedra met haar bene onder ʼn foeliekombers.

Die Londense polisie het op Twitter gesê beamptes is na die toneel ontplooi en mense moet die gebied vermy.

Boris Johnson, Britse minister van buitelandse sake, het aan die BBC gesê almal moet so kalm moontlik bly en so normaal moontlik met hul lewens voortgaan.

Verskeie nooddienste, insluitend ʼn bomverwyderingseenheid en die brandweer, is tans op die toneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.