Talle beseer in ontploffing by restaurant

Die twee mans wat op veiligheidskameras by die restaurant vasgevang is. Foto: Twitter via @PeelPoliceMedia

Minstens 15 mense is beseer, van wie sommige in ʼn kritieke toestand, in ʼn ontploffing Donderdagaand by ʼn restaurant in Ontario, Kanada.

Die voorval het omstreeks 22:30 (plaaslike tyd) by ʼn Indiese restaurant in Mississauga gebeur.

Volgens CNN het twee mans ʼn selfgemaakte ploftoestel in die restaurant laat afgaan voordat hulle van die toneel gevlug het. ʼn Foto van die twee mans, geklee in donker klere met ʼn swart lap om een van hulle se gesig, wat deur veiligheidskameras vasgevang is, is deur die polisie uitgereik en word sedertdien wyd versprei. Die polisie is steeds op soek na die verdagtes.

Peel Regional Paramedic Service (PRPS), die plaaslike munisipale nooddienste, het op Twitter gesê 15 pasiënte is vanaf The Bombay Bhel-restaurant na hospitale gehaas. Drie van hierdie beseerdes was in ʼn kritieke toestand. New York Times berig baie van die beseerdes is kliënte wat die restaurant besoek het.

CNBC berig polisiebeamptes het die gebied afgesper, fynkam steeds die toneel vir leidrade en neem ooggetuies se verklarings af.

Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie en niemand het nog verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie.

In April vanjaar is minstens 10 mense dood en 15 beseer nadat ʼn bussie in voetgangers op ʼn sypaadjie in die besige sakesentrum van Toronto ingeploeg het. Alek Minassian staan tereg op onder meer 10 aanklagte van moord in verband met dié voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

Selfgemaakte bom ontplof. Waarskynlik was dit net ‘n proeflopie en soos finansies nòu is, word selfstandigheid of soos die nuutste beskrywing entrepeneuring, aangemoedig maar wanneer mense eie uitvindsel toets is daar klagtes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.