Talle beseer toe vernietiging van vuurwerk skeefloop

Die materiaal het in die bomopruimingseenheid se bomopruimingsvoertuig in Los Angeles ontplof. (Foto: Desmond Shaw/Twitter)

Minstens 17 mense is Woensdagaand in Los Angeles in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië beseer toe ʼn plaaslike bomopruimingseenheid se poging om tuisgemaakte ploftoestelle en duisende onwettige vuurwerkitems te verwyder, lelik skeefgeloop het.

Die materiaal het in die eenheid se bomopruimingsvoertuig – waarin voorwerpe van dié aard veilig onskadelik gestel word – ontplof. Dit het die bokant van die vragmotor afgeruk voordat dit ʼn vuurbal bo ʼn woonbuurt in die suide van Los Angeles veroorsaak het.

Die polisiehoof van Los Angeles, Michael Moore, sê tien reaksiebeamptes en sewe inwoners het matige beserings tydens die ontploffing opgedoen. Verskeie huise in die woonbuurt is beskadig toe onder meer vensters weens die trefslag uitgeslaan is.

Moore sê dit is nog onduidelik waarom ʼn “algehele rampspoedige mislukking” tydens die proses plaasgevind het.

“Die voertuig was veronderstel om veilig van die materiaal ontslae te raak.

“Die regte protokol is gevolg, maar daar het iets in die voertuig gebeur wat nie moes gebeur het nie en ons weet nie hoekom nie.”

Moore sê beamptes het voor die ontploffing gereageer op inligting oor onwettige vuurwerk in ʼn private woning. Die beamptes het bokse vol vuurwerk op die huis se stoep gevind wat tot byna drie meter hoog opgestapel is en na raming tot 2 300 kg geweeg het.

Die beamptes het, terwyl hulle die vuurwerk verwyder het, ook op tuisgemaakte ploftoestelle van koeldrankblikkies afgekom.

Hierdie toestelle is geskandeer en na die spesiaal ontwerpte vragmotor geneem waar dit omstreeks 18:40 ontplof het.

ʼn 27-jarige inwoner van die huis is in hegtenis geneem vir die besit van die toestelle. Die polisie wil hom ook aankla dat hy ʼn kind in gevaar gestel het omdat sy 10-jarige broer op dieselfde perseel was.

“Soos ons verstaan, ​​is die plofbare materiaal buite die staat [Kalifornië] verkry en hierheen vervoer om dit aan inwoners en bure vir gebruik tydens die Onafhanklikheidsdagviering te verkoop,” het Moore gesê.

Die polisie in Los Angeles het verlede jaar te midde van die viering op meer as vier ton vuurwerk beslag gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aikie ·

Sjoe! Die ou het sy kloutjies op ‘n buitengewone hoëspoed detonasie middel gekry. Van wat ek van hulle “bombsquad” voertuie gelees het, kan die nogal’ n redelike hou suksesvol oorleef. Nie die keer nie. Daai ontbrandingspoed was eenvoudig te hoog en voor die trok kon keer het hy hom gehad.
Ek is ook bly ek is nie daai ou nie. Hy het ‘n hele paar moeilike vragies om te beantwoord.

Bushy ·

Skade sou honderd maal groter gewees het sou dit in die huis gebeur het en nie in die spesiale BOM houer nie.

Belinda ·

Die ou het seker vergeet hy het cargo agter in die voertuig en sy sigaret opgesteek na die stresvolle dag, lmga

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.