Talle beseer, vermis ná ontploffing by chemiese aanleg

Rook borrel uit die aanleg in Leverkusen, Duitsland, na ‘n ontploffing vroeër vandag. (Foto: Roberto Pfeil/AFP)

Minstens 16 mense is beseer en vyf word steeds vermis ná ʼn ontploffing by ʼn chemiese aanleg in Leverkusen in die weste van Duitsland. Amptenare het inwoners gemaan om binnenshuis te bly terwyl groot rookwolke oor die perseel gehang het.

Die ontploffing het om 09:40 Suid-Afrikaanse tyd plaasgevind. “Die oorsaak van die ontploffing is nog nie bekend nie”, het Chempark se operateur, Currenta, in ʼn verklaring gesê.

Duitsland se nasionale waarskuwings-app het boodskappe van “opperste gevaar” aan alle inwoners gestuur en hulle aangesê om in die huis te bly en hul vensters en deure toe te hou. Mense is ook gevra om noodnommers net in uiterste gevalle te gebruik.

Currenta sê die voorval het plaasgevind by Chempark se vullingsterrein en afvalverbrandingsgebied in Leverkusen se Bürrig-gebied. Dit is ʼn afsonderlike gebied van die hoofnywerheidspark waar verskeie chemiese maatskappye, waaronder Bayer, Lanxess en Econik Industries, gesetel is.

Die stad het op Facebook gesê 16 mense is in die voorval beseer, vier van hulle ernstig.

Currenta het vroeër gesê “verskeie werkers” is beseer.

Volgens stadsamptenare het die ontploffing gelei tot ʼn brand by ʼn opgaartenk. Dit het ure geneem om dié brand te blus en die hulp van brandbestryders uit Keulen moes ingeroep word.

Groot getalle polisiebeamptes, brandbestryders en nooddienswerkers is op die toneel ontplooi. Kenners in die bepaling van besoedelingsvlakke is ook na die aanleg gestuur te midde van kommer dat rook op die toneel ʼn gesondheidsgevaar kan inhou.

Die polisie in Keulen het getwiet dat hulle verskeie paaie in die Leverkusen-gebied sluit weens “groot skade” wat aangerig is.

Hulle het ʼn beroep op motoriste gedoen om die gebied te vermy en die boodskap herhaal dat mense in hul huise moet bly en deure en vensters as voorsorgmaatreël moet toehou.

Plaaslike inwoners het foto’s op sosialemediaplatforms gedeel van die swart rookwolk wat in die lug opstyg, terwyl ander aangemeld het dat hul vensters geskud is deur die krag van die ontploffing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Goeie rede om nou jou masker te dra. Sulke rook is veel skadeliker as Covid. Wonder hoe gaan hulle die mense bystaan?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.