Reddingswerkers werk aan ʼn gebou wat ineengestort het tydens die aardbewing in Turkye (25 Januarie 2020) (Foto: IHA via AP)
Minstens 22 persone is dood en meer as 1 000 persone beseer tydens ʼn aardbewing in Turkye.
Suleyman Soylu, minister van binnelandse sake, het tydens ʼn perskonferensie gesê 39 persone is reeds uit die puin gered nadat geboue ineengestort het, insluitend ʼn vrou wat 14 uur ná die oorspronklike aardbewing gered is.
Die aardbewing het Vrydagaand om 20:55 (plaaslike tyd) plaasgevind op ʼn diepte van 6,7 km naby Sivrice, het die ramp- en nooddiensbestuurpresidensie (AFAD) gesê. Verskeie moniteringsentra het gesê die aardbewing was tussen 6,5 en 6,8. Afad het gesê dit is gevolg deur 228 naskokke, waarvan die sterkste tussen 5,1 en 5,4 was.
Reddingswerkers is steeds op soek na persone wat onder die puin vasgekeer is, het Fahrettin Koca, minister van gesondheid, bygevoeg.
Nooddienswerkers en veiligheidsmagte het tente, beddens en komberse versprei terwyl die temperatuur oornag tot laer as vriespunt gedaal het. Moskees, skole, sportsale en koshuise het hul deure oopgemaak vir honderde persone wat dakloos gelaat is.
“Die aardbewing was baie erg. Ons het desperaat uit ons huis gehardloop,” het Emre Gocer aan die staatsbeheerde Anadolu-nuusagentskap gesê. Hy skuil tans saam met sy gesin by ʼn sportsaal in Sivrice. “Ons het nie tans ʼn veilige plek waar ons kan bly nie.”

Reddingswerkers werk aan ʼn gebou wat ineengestort het tydens die aardbewing in Turkye (25 Januarie 2020) (Foto: IHA via AP)
Minstens vyf geboue in Sivrice en 25 in Malatya is verwoes, het Murat Kurum, minister van omgewingsake, gesê. Honderde ander strukture is beskadig en onveilig verklaar.
Soylu het gesê 18 persone is dood in Elazig en vier in Malatya. Ongeveer 1 030 persone is beseer. Koca het tydens die perskonferensie gesê 34 persone is in die hoësorgeenheid in die hospitaal.
ʼn Tronk in Adiyaman, 110 km suidwes van die episentrum, is ontruim nadat dit tydens die aardbewing beskadig is. Altesaam 814 gevangenes is na tronke in omliggende stede gestuur.
“Ons grootste hoop is dat die dodetal nie sal styg nie,” het Mustafa Sentop, speaker van die parlement, gesê.
Kommunikasiemaatskappye het gratis telefoon- en internetdienste vir inwoners in die streek aangekondig. Turkish Airlines het ekstra vlugte aangekondig.
Soylu het gesê nooddienswerk duur voort onder die risiko van naskokke.
Elazig is ongeveer 565 km oos van die hoofstad Ankara.
Ongeveer 18 000 persone is in 1999 in Turkye dood toe twee sterk aardbewings die land getref het.
- Reddingswerkers dra ʼn gewonde persoon ná hulle hom uit die puin gered het (25 Januarie 2020) (Foto: IHA via AP)
- Reddingswerkers dra ʼn gewonde vrou ná hulle haar uit die puin gered het (25 Januarie 2020) (Foto: IHA via AP)
- Reddingswerkers op soek na persone wat onder die puin begrawe is (25 Januarie 2020) (Foto: IHH/ Humanitarian Relief Foundation via AP)

- Reddingswerkers werk aan ʼn gebou wat ineengestort het tydens die aardbewing in Turkye (25 Januarie 2020) (Foto: IHA via AP)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Mensekind maak oop jul oë die koms van die Here is naby Hy waarsku ons in sy woord aardbewings oorloë en gerugte van oorloë.