Talle dood in Nepal-vloede

Vloede in Nepal in Augustus 2017 (Foto: AP Photo/Manish Paudel)

Die dodetal in ʼn klein dorpie in die ooste van Nepal het Saterdag op 27 tot staan gekom, ná nog drie persone dood is.

Moesonreën het die land se oostelike en sentrale dele die afgelope week getref, insluitend die hoofstad Katmandoe. Dit het tot grondstortings en oorstromings gelei.

Ramesh Thapa, woordvoerder van die polisie, het die dodetal van 27 bevestig. Minstens 11 persone is beseer en 15 word vermis.

Ongeveer 123 persone is die afgelope twee dae in verskeie dele van die land gered, het Thapa bygevoeg.

Die departement van hidrologie en meteorologie het Saterdag gewaarsku dat watervlakke van talle riviere gevaarlike vlakke bereik het. Die weervoorspellingseenheid het gewaarsku dat reën en sterk wind oor die naweek sal voortduur.

Verskeie brûe oor snelweë het ineengestort en paaie is versper met grondstortings en oorstromings. Talle reisigers is gestrand gelaat, het plaaslike media Saterdag berig.

Minstens 9 000 mense is in 2015 in Nepal dood toe ʼn kragtige aardbewing die gebied getref het.

Moesonreën, tussen Junie en September, lei jaarliks tot talle sterftes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.