Talle dood in skietery, ontploffing by kollege

Foto: Viktor Korotaev/Kommersant Photo via AP

Minstens 20 mense is dood en tientalle beseer nadat ʼn 18-jarige student ʼn ploftoestel laat afgaan en toe op medestudente losgebrand het voor hy sy eie lewe geneem het.

Die aanval het by die Kerch Polytechnic in Kerch in die outonome Krim-skiereiland plaasgevind. Die aanvaller is geïdentifiseer as Vyacheslav Roslyakov. Daar is aanvanklik vermoed hy het alleen opgetree, maar Russiese media-agentskappe berig nou daar word gesoek na moontlike medepligtiges.

Rusland het die Krim-skiereiland in 2014 van die Oekraïne geannekseer. Die owerhede het nog nie ʼn motief vir die aanval waarin meer as 50 mense gewond is, bekend gemaak nie. Lektors en medestudente het die aanvaller as skaam beskryf en iemand wat nie baie vriende gehad het nie.

Beeldmateriaal wys hoe die jong man doodluiters by die kollege instap met ʼn kappietop wat sy blonde hare bedek. Dit wys hoe hy dan kalm by trappe afstap terwyl hy ʼn vuurwapen in sy een hand, met ʼn handskoen aan, vashou.

“Hy het rondgeloop en lektors en studente koelbloedig doodgeskiet,” het Sergei Aksyonov, streeksleier in die Krim, gesê. Die aanvaller het daarna in die biblioteek sy eie lewe geneem.

Foto: Kerch Info News via AP

Veronika Skvortsova, Rusland se minister van gesondheid, het gesê die meeste slagoffers is aan skietwonde dood, maar talle beseerdes se wonde is veroorsaak deur die ontploffing. Volgens haar het die ploftoestel skrapnel bevat wat ernstige beserings tot gevolg gehad het.

Die ploftoestel is tuisgemaak en het in die kollege se kafeteria afgegaan. Daar is ook later ʼn tweede ploftoestel gevind wat gedeaktiveer is.

Minstens 10 beseerdes is baie ernstig beseer en sal na Russiese hospitale gevlieg word vir behandeling.

Woensdag se aanval in Kerch is die dodelikste aanval deur ʼn student in die geskiedenis en het opnuut kommer laat ontstaan oor veiligheid by instansies van opvoeding in die land. Minstens 333 mense is in 2004 dood in ʼn aanval by ʼn skool in Beslan. Die aanval het drie dae lank aangehou en honderde mense is beseer.

Pres. Wladimir Poetin het die jongste aanval as tragies beskryf en sy medelye met die slagoffers se families betuig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

GM ·

Wielie, almal soek simpatie by ander lande in verband met plaasmoorde en grondonteiening ens., maar ‘n sekere groep wil niks hoor van ander lande se ellende nie? Dis vir my verstommend.
Julle moet dalk NET jul eie dorp se nuus lees, want die res maak dan ook mos nie saak nie?

Sterkte aan die slagoffers en hul naasbestaandes. Dit is so wreed.

waarheid ·

Dit is vreeslik – ek het ook op internasionale nuus gelvolg.
Die arme ouers en die kinders – ek kry hulle so jammer.
Ek hoop hierdie mense kry vertroosting by Liewe Jesus.

AW ·

“Sometimes the things in our heads are far worse,
Than anything they could put in books or on film.
– C.K Webb

“Is evil something you are?
Or is it something you do ?
– Brett Easton Ellis, American Psycho

“Son, the greatest trick
the Devil pulled
was convincing the world
there was only one of him.”
– David Wong, John dies at the end.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.