Talle dood in twee Afganistan-bomaanvalle  

Afghaanse veiligheidsmagte tydens ‘n operasie teen die Taliban. Foto: Javed Tanveer/AFP

Minstens agt mense is dood en meer as 15 gewond toe ʼn motorbom Sondag in Kaboel in Afganistan ontplof het.

Vroue en kinders is ook in die aanval dood. ʼn Veiligheidsbron het gesê die motorbom het in die weste van die hoofstad ontplof.

“Dit was ʼn kragtige ontploffing wat huise in die omgewing erg beskadig het,” het die bron gesê.

Minstens 15 kinders is Vrydag in ʼn bomaanval in die Ghazni-provinsie dood. Die kinders het ʼn godsdienstige byeenkoms by ʼn huis in die Gilan-distrik bygewoon toe die ontploffing plaasgevind het. Meer as 20 mense is beseer.

ʼn Motorbom by ʼn weermagbasis in dieselfde provinsie het verlede maand die lewe van minstens 30 veiligheidswagte geëis.

Daar was die afgelope paar maande ʼn vlaag aanvalle in Afganistan ten spyte van die regering en die Taliban wat vredesonderhandelinge begin het.

Die regering se gesprekke met die Taliban wat in September in die Katarese hoofstad, Doha, begin is, word in Januarie voortgesit.

Daar is egter ʼn toename in gevegte, met die Taliban wat daarvan beskuldig word dat hulle deur geweld die oorhand in die gesprekke wil kry.

Tussen Januarie en September vanjaar is meer as 2 100 burgerlikes dood en meer as 3 800 gewond in die geweld.

Die Taliban teiken die afgelope ruk hoofsaaklik regeringsmagte in landelike gebiede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.