Minstens agt mense is dood nadat ʼn aardbewing Woensdagoggend die sentrale deel van Italië geskud het.
Die aardbewing wat 6,1 geregistreer het, het omstreeks 03:36 onder meer die stad Amatrice geruk en talle geboue het ineengestort of is beskadig. Sterk naskuddings het gevolg. Hoewel owerhede tot dusver slegs agt sterftes kon bevestig, kan die dodetal waarskynlik styg.
Met sonsopkoms het inwoners en reddingswerkers met stootskrapers begin om mense te red wat onder die puin vasgekeer is. Werkers het ook afgesperde paaie oopgemaak.
In Accumoli is ʼn familie van vier dood nadat hulle onder die puin vasgekeer is. Nog twee liggame is in Amatrice onder die puin gevind. Die ANSA nuusagentskap het berig ʼn bejaarde egpaar in Arquata del Tronto is ook dood.
Volgens die owerhede het Accumoli en Amatrice die meeste skade opgedoen, maar inwoners regoor sentraal-Italië het die skuddings gevoel.