Talle dood ná bom deur moskee ruk

Egiptiese veiligheidsdienste veg al die afgelope drie jaar teen ʼn opstand van die Islamitiese Staat. Argieffoto: kvue.com

Talle mense het gesterf in ʼn dodelike bom- en skietaanval op ʼn moskee in die onbestendige Sinai-skiereiland in die noorde van Egipte.

Die presiese dodetal is nog nie bekend nie, maar Al Jazeera berig tot 155 mense is in die aanval dood. Volgens The Guardian het die dodetal reeds tot 184 gestyg.

Dit is skynbaar die jongste aanval deur die streek se plaaslike Islamitiese Staat-geaffilieerde. Volgens nuusberigte het niemand nog amptelik verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie. The Guardian berig die aanval was die dodelikste nog in die streek waar Egiptiese veiligheidsdienste al die afgelope drie jaar veg teen ʼn opstand van die Islamitiese Staat waarin honderde polisiebeamptes en soldate reeds vermoor is.

Die Egiptiese staatsnuusagentskap MENA het amptelike bronne aangehaal wat sê 80 mense is gewond in die aanval op die al-Rawdah-moskee in Bir al-Abed, 40 km van die Noord-Sinai- provinsiale hoofstad, El Arisj.

Owerhede het vroeër gesê ʼn bom het deur die moskee geruk tydens die preek van aanbidders se Vrydag-gebedsessie, voordat militante in vier veldvoertuie aangekom en op die moskeegangers losgebrand het.

Slagoffers is volgens berigte in meer as 50 ambulanse na plaaslike hospitale gehaas en daar word gewag op ʼn amptelike bevestiging van die dodetal en getal beseerdes.

Volgens Al Jazeera kom die aanval ʼn dag voordat die Rafah-grenspos, die hoofpoort vir Palestyne in die beleërde Gasastrook na die buitewêreld, vir drie dae sou open.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.