Talle dood na bomaanval by nuusagentskap

Mense dra ʼn beseerde man by ʼn hospitaal in ná ʼn selfmoordbomaanval in Kaboel, Afghanistan (28 Desember 2017). Foto: AP Photo/Rahmat Gul

Talle mense is Donderdag dood in ʼn selfmoordaanval op die kantoor van die Afghan Voice-nuusagentskap in Kaboel in Afghanistan.

Volgens owerhede is verskeie van die slagoffers studente wat ʼn konferensie bygewoon het. Nasrat Rahimi, adjunk-woordvoerder van die departement van binnelandse sake, het gesê minstens 40 mense is in die ontploffing dood en 30 mense is beseer.

Feda Mohammad Paikan, die adjunk-minister van gesondheid, het gesê 35 liggame is na die nabygeleë Istiqlal-hospitaal geneem. Beeldmateriaal op televisie-nuusuitsendings het verskeie mense getoon wat ernstige brandwonde opgedoen het. Foto’s van ooggetuies op die toneel het erge skade aan die geboue getoon en ʼn aantal liggame en beseerde mense wat op die grond lê.

Dié aanval is die jongste in ʼn reeks aanvalle op media-organisasies in Kaboel. ʼn Paneelbespreking op die 38ste herdenking van die Sowjet-inval in Afghanistan was aan die gang toe die ontploffing gebeur het.

Sayed Abbas Hussaini, ʼn joernalis by die agentskap, het gesê dit wil voorkom asof daar meer as een ontploffing tydens die aanval was, aangesien die eerste ontploffing by die ingang van die perseel was waar twee kantore geleë is. Hy het gesê een van die agentskap se verslaggewers is gedood en nog twee is beseer.

Mense sien om na ʼn onstelde man buite ʼn hospitaal ná ʼn selfmoordbomaanval in Kaboel, Afghanistan (28 Desember 2017). Foto: AP Photo/Rahmat Gul

President Ashraf Ghani het in ʼn verklaring die aanval as ʼn “onverskoonbare” misdaad teen die mensdom bestempel en het beloof om terreurgroepe uit te roei.

Afghan Voice het bande met Sjiïete, maar niemand het onmiddellik verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie. Zabihullah Mujahid, woordvoerder van die Taliban, het op Twitter ontken dat dié groep by die aanval betrokke was.

Die aanval kom ná ʼn aanval op ʼn private televisiestasie in Kaboel verlede maand.

Afghaanse magte, gerugsteun deur swaar Amerikaanse lugaanvalle, het die Taliban in baie gebiede teruggedwing en verhoed dat groot stedelike gebiede in die hande van insypelaars beland. Hoë-profielaanvalle in groot stede gaan egter steeds voort namate militante na ander maniere soek om ʼn impak te maak en vertroue in sekuriteit te ondermyn.

Volgens ʼn verslag wat vandeesmaand deur die mediavryheidsgroep Reporters without Borders uitgereik is, is Afghanistan een van die wêreld se gevaarlikste lande vir mediawerkers, met twee joernaliste en vyf media-assistente wat tot dusver in 2017, vóór vandag se aanval, in die uitvoer van hul pligte gesterf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerrit ·

Hulle het ook seker die beriggewing half en sonder feite gedoen soos n sekere media groep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.