ʼn Bomontploffing by ʼn byeenkoms in Addis Ababa wat bedoel was om steun aan die land se nuutaangestelde eerste minister te toon het dié naweek talle lewens geëis.
Abiy Ahmed, wat in April vanjaar as eerste minister aangestel is, het dié nuus bevestig.
Die dagblad Khaleej Times berig die ontploffing het glo plaasgevind kort nadat Ahmed sy toespraak by Meskel Square in die land se hoofstad gelewer het.
“ʼn Paar Ethiopiërs is beseer,” het hy in ʼn regstreekse televisieuitsending gesê. “Daar is ook talle wat hulle lewe verloor het.”
Ahmed het die voorval bestempel as ʼn “onsuksesvolle poging deur magte wat nie Ethiopië verenig wil sien nie”.
Seyoum Teshome, ʼn lid van die komitee wat die byeenkoms gereël het, het aan dié dagblad gesê die verdagte het ʼn handgranaat gebruik en dit “na die verhoog probeer slinger waar Ahmed gepraat het”.
Ahmed het ʼn reeks radikale hervormings uiteengesit sedert sy amp in April. Hy het vroeër vanjaar gesê hy is bereid om ʼn ooreenkoms te onderteken wat ʼn twee jaar lange oorlog tussen Ethiopië en Eritrea tot ʼn einde sal bring.
Ek is redelik seker die oorlog tussen Etiopië en Eritrea duur al langer as 2 jaar…