Talle dood toe brug in Italië ineenstort

Reddingswerkers op die toneel waar die brug in Genoa, Italië ineengestort het (Foto: Lucca Zennaro/ANSA via AP)

Talle persone is Dinsdag dood toe ʼn brug in Genoa, Italië, ineengestort het.

Daar is nog nie bevestiging oor die getal sterftes nie. Die BBC berig minstens 35 persone is dood. Angelo Borrelli, hoof van Italië se burgerlike beskermingsagentskap, het egter gesê minstens 20 persone is dood en 13 beseer. Italië se adjunkminister van vervoer het vroeër gesê minstens 22 persone is dood en agt beseer.

ʼn Beampte van die brandweer in Italië, Amalia Tedeschi, het aan RAI gesê minstens 20 voertuie, insluitend motors en vragmotors, was betrokke in die ineenstorting oor die snelweg. Snuffelhonde is op die toneel om na beseerde persone en oorledenes te soek. Meganiese toerusting word gebruik om van die puin te skuif om gedeeltes van die brug op te tel.

Borrelli het tydens ʼn perskonferensie in Rome gesê dit blyk dat al die slagoffers in voertuie was wat by die brug afgeval het. Alhoewel daar ook twee pakhuise onder die brug is, was dit gesluit vir somervakansie en niemand was binne nie.

Tedeschi het gesê die deel van die brug wat ineengestort het, was ongeveer 80 m lank.

‘n Vragmotor het stilgehou waar die Morandi-snelweg in Genoa, Italië ineengestort het (Foto: Vigili del Fuoco via AP)

Matteo Salvini, minister van binnelandse sake, het vroeër gesê ongeveer 200 brandbestryders is op die toneel.

Die brug is ʼn belangrike wisselaar tussen die noordelike streke van Lombardy en Piedmont en die strande van Liguria en die hoofweg in ʼn westelike rigting na Frankryk.

Die polisie het op Twitter gesê die ineenstorting het omstreeks 11:30 tydens ʼn skielike storm plaasgevind.

ʼn Ooggetuie, Pietro M all’Asa, het aan Italië se Ansa-nuusagentskap gesê hy het gesien hoe ʼn weerligstraal die brug tref en die brug het kort daarna ineengestort.

Ian Firth, ʼn strukturele ingenieur wat in brûe spesialiseer, het egter gesê dit is nog te vroeg om te sê wat tot die dodelike ineenstorting gelei het. Volgens hom kan roes en weertoestande moontlik ʼn oorsaak wees. Die brug is 50 jaar oud. “Die feit dat daar tydens die ineenstorting ʼn storm was, kan moontlik of glad nie relevant wees nie. Voortgesette konstruksiewerk aan die brug kan ook moontlik gedeeltelik of glad nie verantwoordelik wees nie vir die ineenstorting.”

Firth het gesê die brug het ʼn ongewone ontwerp, maar is soortgelyk aan ʼn groter brug in Venezuela. Albei is ontwerp deur Riccardo Morandi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elsabe ·

Ek het vraag oor iets heel anders. Weet nie waar om meer inligting te kry nie. Wat het van Letitia Bosman se saak geword?

info ·

haar appel aansoek het sy verloor en wag nou om te hoor vir koninglike kwytskelding as dit nie gebeur nie is dit dood straf defs dan..

IK ·

Ek stem volkome saam met die ingenieur oor die moontlikhede. Beton op sigself is nie sterk maar totaal afhanklik van die staalwerk en belangrik ook waar presies dit aangebring is in die brug se beton. Dit staan bekend as gewapende beton. Die totale beskerming van hierdie staal in die beton is vd uiterste belang en moet onderhou word om enige vorming van roes te vermy d.w.s. krakies moet toegestop word. Ek is ‘n leek op hierdie gebied maar glo dat daar tegnologie beskikbaar is om die staalwerk te kan ‘sien’ in so ‘n konstruksie. Daar moet ook onthou word dat die brug ook sy eie massiewe massa/gewig moet dra. Hier het letterlik die laaste strooi die kameel se rug gebreek.
Mens kan net wonder hoe lyk ons eie bruê se toestand. Hou bietjie stil by die Ascotbrug oor die Vaalrivier (Vdbijlpark) tussen Gauteng en die Vrystaat en gaan loer oor sy kante hoe die stukke betonrelings afhang teen die kante. Met druk danksy die Vaalweekblad het ons reggekry dat betonblokke geplaas is oor die openinge waar daar geen relings meer is. Ry maar liewer toe-oë oor ons ouer bruê . . .

Daan Erasmus ·

Die brug is/was 50 jaar oud. Dink mooi. Die meeste brûe in Suid-Afrika is 50 jaar of ouer. En ons het geen instandhouding nie. Gee kans. Net ‘n kwessie van tyd en dit gebeur hier.

Essa ·

Elsabe – berig op Beeld voorblad vanoggend. Appel aansoek uitgestel tot 11 Oktober.
Goeiste, hierdie moet ‘n beproewing wees vir almal betrokke. Sterkte en goeie wense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.