Talle dood toe vliegtuig in winkelsentrum vasvlieg

Foto: Xinhua/Gui Qing(yk)

Foto: Xinhua/Gui Qing(yk)

Minstens vyf mense is dood toe ʼn klein vliegtuig in ʼn winkelsentrum vasgevlieg het in Melbourne, Australië.

Die Beechcraft-vliegtuig het kort nadat dit van die Essendon-lughawe opgestyg het in die winkelsentrum vasgevlieg. Die winkelsentrum was nog nie oop vir die publiek nie, maar daar was wel personeel in sommige winkels. Hulle is egter nie beseer nie.

Al vyf insittendes van die vliegtuig is dood. Stephen Leane, polisiekommissaris, het gesê die vliegtuig het vermoedelik enjinprobleme gehad. “Dit is ʼn wonderwerk dat niemand aan die agterkant van daai winkels of in die parkeerterrein was nie.”

Daniel Andrews, premier van Victoria, het gesê dit is die ergste lugvaarttragedie in die provinsie die afgelope 30 jaar.

Mick Frewen, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê ʼn noodboodskap is deur die vliegtuig uitgestuur kort nadat dit opgestyg het.

Die oorledenes is geïdentifiseer as vier Amerikaanse toeriste en ʼn Australiese vlieënier.

Brandbestryders het vir nagenoeg vier uur gespook om die brand wat die vliegtuig en ʼn deel van die winkelsentrum verswelg het in bedwang te bring.

Die Australiese buro vir vervoerveiligheid ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan ·

“Talle dood” , is vyf “talle”?
Nietemin ,een mens wat gesterf het is een te veel.

Sune van Heerden ·

Dagsê Johan

Dankie vir jou terugvoer.
Die woord “talle” verwys nie na ‘n spesifieke getal nie.

Terloops, Daniel Andrews, staatspremier van Victoria, het die ongeluk beskryf as “die ergste burgerlike lugvaarongeluk die afgelope 30 jaar”. Altesaam 90 brandbestryders was op die toneel om die brand te blus.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

JOHANNA ·

Johan, in Australie is ‘vyf’ sterfgevalle – talle. Mense lewens word so geag daar. Ons hier in Suid Afrika is so gewoond aan misdaad en ongelukke waar mense elke minuut van die dag omkom, dat 5 lewens vir ons as – min voorkom ! Dis n tragiese gebeurtenis.

Siener van Melbourne ·

Johanna hierdie goed gebeur maar oral,ja selfs hier in Melbourne. Dis die media wat graag aandik terwille van sensasie. Groete uit Melbourne.

Carien ·

Jy praat waar Johanna, met net 250 sterftes in Queensland op die paaie vir die hele jaar van 2016 is 5 op een slag, talle vir die land en onnodig. Groete uit Aus

Pietser ·

Swak instandhouding? Ook nie ‘n goeie idee om hierdie klein vliegtuie naby geboude gebiede toe te laat nie. Moet ondersoek word

Koos1 ·

Pietser, dit is die gevolg van versedeliking. Wonderboom lughawe in Pta is baie jare terug gebou en was ver van die stad en beboude gebied af. Aanvraag na huise het baie in die gebied gegroei en vandag is die lughawe in die middel van Doornpoort. Om daardie rede sal vliegtuie en beboude gebiede altyd maar in mekaar se “pad” wees.

Jakalas ·

Dink net die doodetal as die winkel sentrum oop was vir die publiek. Dit sou ‘n groot verlies van lewe gewees het.

Ina ·

Ek geniet die lees van Maroela Media baie. Goeie deurlopende Afrikaans, verniet en gratis. Waarom betaal vir nuus soos Media24? Betaal reeds daarvoor op die TV/DSTV en dit is so duur!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.