Talle dood, vermis ná boot omslaan

Bemanningslede van ‘n reddingsboot soek na die vermistes. ( Peter Lakatos/MTI via AP)

Sewe mense is dood en minstens 19 word vermis nadat ’n veerboot met toeriste aan boord Woensdagaand in die Donau-rivier in Boedapest in Hongarye omgeslaan en gesink het.

Die internasionale mediahuis BBC berig dat 30 toeriste, drie toergidse en twee bemanningslede op Hongaarse water gevaar het toe hul boot omstreeks 22:00 (plaaslike tyd) teen ’n groot vaartuig gebots het.

Die tweeverdieping-veerboot genaamd die Hableany  (The Mermaid) het ná die botsing in die water naby die parlementsgebou in dié stad omgeslaan.

Volgens Sky News het swaar reënval in die stad sterk onderstrome in die rivier, die tweede grootste in Europa, veroorsaak. Die reën, sterk onderstrome en swak sigbaarheid het reddingswerkers se taak bemoeilik om toeriste gisteraand uit die ysige water te probeer red.

Nooddienste op die toneel. (Zsolt Szigetvary/MTI via AP)

Reddingswerkers kon daarin slaag om sewe mense te red. Die toeriste het ná die voorval aan hipotermie gely maar hulle toestand word sedertdien as stabiel bestempel.

Die sewe wat in die voorval omgekom het, is as Suid-Koreaanse toeriste geïdentifiseer. ʼn Kind is onder dié sterftes.

ʼn Soektog na die vermiste toeriste duur voort. Suid-Koreaanse amptenare is reeds onderweg na Boedapest om te help met die soek-en‑reddingspoging, het Sky News berig.

Plaaslike owerhede waarsku egter dat die kanse al skraler word om die vermistes op te spoor weens die sterk onderstrome.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.