Talle dood, vermis ná ‘isolasiehotel’ in China ineenstort

Die reddingspan probeer om die oorblywewnde 23 mense wat onder die puin vasgekeer is, te bevry (Foto: Chinatopix via AP)

Minstens 10 mense is dood en 23 word steeds vermis nadat ’n hotel in China, waar mense in isolasie gehou is weens Covid-19, Saterdagaand ineengestort het.

Daar was altesaam 71 mense in dié vyfverdiepinghotel in die stad Quanzhou toe dit ineengestort het. Sowat 58 van dié mense is in isolasie gehou nadat hulle aanvanklik negatief getoets het vir Covid-19.

’n Reddingspan van meer as 1 000 lede bestaande uit brandbestryders, nooddienswerkers en die polisie is na die gebou gestuur. Altesaam 38 mense is gered en dadelik na hospitale geneem vir verdere mediese sorg. Reddingswerkers probeer steeds die oorblywende 23 wat onder die puin vasgekeer is, bevry.

Die oorsaak vir die ineenstorting is nog nie bekend nie en word ondersoek. Daar is klaarblyklik vroeër opknappingswerk aan die gebou se eerste verdieping gedoen. Die polisie het die eienaar van die gebou vir ondervraging ingeneem.

CNN berig die gebou is in 2013 opgerig en in 2018 in ’n hotel met 66 kamers omskep.

Daar is reeds 47 gevalle van Covid-19 in Quanzhou aangemeld, lui ’n BBC-berig.

China het reeds meer as 80 000 gevalle van Covid-19 bevestig. Meer as 3 000 mense is al in dié land dood.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter J ·

Dit is een van die redes hoekom ons dink Chinese doen swak werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.