Talle gehospitaliseer ná Irak-stofstorm

ʼn Man ry met sy bromponie in ʼn straat tydens ʼn stofstorm in Nasiriya, Irak (9 April 2022) (Foto: Asaad Niazi/AFP)

Talle mense is in hospitale opgeneem met asemhalingsprobleme ná ʼn stofstorm in Irak, het ʼn woordvoerder van die ministerie van gesondheid Saterdag gesê.

Die storm het Donderdag in die noorde van die land begin en vlugte na Arbil, hoofstad van die outonome Kurdistan-streek, is opgeskort.

Die storm het na die suide beweeg en Bagdad en stede so ver suid as Nasiriyah in ʼn oranje gloed gehul.

Geboue en voertuie in die hoofstad is met ʼn okerkleurige stoflaag bedek, het AFP-verslaggewers berig.

Die storm het “dosyne hospitalisasies reg oor Irak veroorsaak weens asemhalingsprobleme”, het Saif al-Badr, woordvoerder vir die ministerie van gesondheid, aan AFP gesê.

Amer al-Jabri, direkteur van die meteorologiese kantoor, sê alhoewel stofstorms nie ongewoon is in Irak nie, kom dit al hoe meer gereeld voor “weens droogte, woestynvorming en ʼn afname in reënval”. Irak is baie kwesbaar vir klimaatsverandering en het die afgelope paar jaar reeds rekord lae reënval en hoë temperature aangeteken.

Kenners sê dié faktore kan ʼn maatskaplike en ekonomiese ramp in die oorloggeteisterde land veroorsaak.

Die Wêreldbank het in November gewaarsku dat Irak teen 2050 ʼn 20%-afname in waterhulpbronne kan ly weens klimaatsverandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.