Talle gemonitor ná boer (37) aan Kongokoors sterf

Argieffoto (Foto: Parentingupstream, Pixabay)

Die Namibiese departement van gesondheid en maatskaplike dienste het Vrydag bevestig dat 62 mense tans gemonitor word vir moontlike simptome van Kongokoors – dít nadat ʼn 37-jarige boer vroeër die week aan die siekte dood is.

Volgens die Namibiese radiostasie Kanaal 7 is 37 van die pasiënte wat gemonitor word van Keetmanshoop en 25 van Windhoek.

Lillian Kahuika, ʼn epidemioloog van die departement, het inwoners gemaan om hul vee teen die Hyalomma-bosluis te bespuit en om beskermende drag te dra.

Die Namibiese koerant Die Republikein berig die 37-jarige man is in die isolasie-eenheid van die Windhoek Sentrale-hospitaal dood. Die man het glo etlike weke vroeër ʼn buurman gehelp om ʼn koei te slag en is vermoedelik deur ʼn bosluis gebyt.

Die Namibiese nuuswebwerf New Era berig ’n reaksiespan is na hospitale in die stad uitgestuur. Beamptes van die departement van landbou, water en bosbou is deel van die reaksiespan.

Bernard Haufiku, die Namibiese minister van gesondheid en maatskaplike dienste, het aan dié nuuswebwerf bevestig dat een bevestigde geval van Kongokoors volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) as ’n uitbreking van die siekte geklassifiseer word.

Simptome van Kongokoors sluit in hoë koors, erge kopseer en ander lyfpyn soos pyn in die gewrigte en rug, ʼn seer en stywe nek, naarheid, braking en verwarring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae