Talle geraak terwyl Swazi Spa-hotelle gesluit bly

Royal Swazi Spa (Foto: Royal Swazi Spa/Facebook)

Altesaam 176 werknemers van die Swazi Spa-hotelgroep is tans sonder heenkome met geen teken dat hulle aan die einde van die maand hul salarisse gaan ontvang nie.

Lucky Lukhele, woordvoerder van die Swaziland Solidarity Network (SSN), sê sedert die regering van Swaziland ʼn grendelstaat afgekondig het, moes die werknemers op slegs 31% van hul salarisse oorleef omdat die hotelle gesluit is. “Terwyl ander hotelle egter weer hul deure oopgemaak het toe die inperkingsreëls verslap is, bly alle Swazi Spa-hotelle gesluit en personeel word nie ingelig vir die redes vir die voortgesette sluiting nie.”

Lukhele sê dit bedreig die lewensbestaan vir meer as 1 000 Swazilanders. Die hotelgroep word gesamentlik besit deur Sun International en Tibiyo Takangane, ʼn koninklike welvaartsfonds wat deur koning Mswati in trust gehou word vir Swazilanders.

“Dit is eers ná die werknemers die bestuur genader het, dat die redes onthul is: Sun International het ʼn ooreenkoms met Tibiyo aangegaan wat eersgenoemde dwing om Tibiyo in te sluit by enige planne om aandele te deel. Volgens die ooreenkoms het Tibiyo reg tot weiering van Sun International se aandele. Dit beteken dat Sun International se aandele eerste aan Tibiyo aangebied moet word. As Tibiyo dit egter nie wil koop nie, kan dit aan ander belanghebbendes verkoop word.”

Lukhele sê die koning het die kontrak gemanipuleer deur eenvoudig te weier dat Tibiyo óf die aandele aanskaf óf toestemming te gee dat iemand anders Sun International se aandele kan koop.

“Die koning glo dat Sun International die aandele gratis aan die koning moet gee terwyl hy na verwagting die aandele teen ʼn redelike markverwante prys sal verkoop. Omdat die koning hom nie tot enigiets wil verbind nie, is die hotel gedwing om gesluit te bly terwyl skuld ophoop weens nie-operasionele uitgawes. Hierdie omstandighede sal die maatskappy dwing tot likwidasie.”

Lukhele sê die situasie word vererger deur die feit dat die maatskappy en werknemers nie die hof kan nader nie, omdat die koning grondwetlik immuun is teen siviele sake.

“Koning Mswati se hebsug is verstommend. Die enigste werklike oplossing vir die betrokke werknemers is om by die groot groep aan te sluit wat tans eis dat die monargie uit politiek verwyder moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Grassie ·

Daardie sg “koning” se hebsug en uitspattighede is ongelooflik. Hy melk sy flenter-landjie se geldkas droog om vir daardie uitspattighede te betaal terwyl sy onderdane swaarkry. Dit is hoog tyd dat die Swazis van hom ontslae raak.

Jr ·

Aahgg BORING. Die storie van Afrika. Maar hulle sal nie hulle kruis langs iemand wat change en prosperity kan bring. Stem elke keer vir ellende. BOOOORRRRIIIINNNNGGG

Saartjie ·

Die koning het lewensreg. Niemand kry die geleentheid om vir hom te stem nie.

Fritz ·

n Koning sonder n weermag is maar net n mannetjie met n snaakse hoed. Wêreldwyd moet weermagte net hul steun aan koninklikes onttrek.

Manie ·

Hulle moet nie alleen voel nie dit is wat in Zimbabwe gebeur het en tans in Suid-Afrika gebeur.
Maar nouja stem maar weer vir hulle!

Misky ·

Die sogenaamde koning soek die aandele gratis van Sun Int en hy gaan dit verkoop….. die mahala siekte is nie net ‘n plaag in SA nie, maar oral onder sekere mense. Joh!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.