Die webwerwe van verskeie groot maatskappye, waaronder Barclays, HSBC, British Airways en Airbnb, was Donderdag tydelik nie aanlyn nie nadat ʼn sagteware-opgradering ʼn fout by die wolkdiensverskaffer Akamai veroorsaak het.
“Die opdatering van ʼn sagteware-konfigurasie het ʼn fout in die DNS (domeinnaamstelsel), wat webblaaiers na webwerwe stuur, veroorsaak,” het Akamai in ʼn plasing gesê.
“Dit het ʼn ontwrigting veroorsaak wat die beskikbaarheid van sommige kliënte se webwerwe geraak het.”
Want to know who use Akamai? Just wait until it goes down pic.twitter.com/tOHxXaXmMD
— Howie (@howieweiner) July 22, 2021
Akamai het om verskoning gevra vir die onderbreking en sê die opskorting van die sagtewareopgradering het die probleem opgelos.
Die ontwrigting het onder meer banke en lugrederye lamgelê en kom boonop net enkele weke nadat Akamai ook betrokke was by ʼn groot aanlyn onderbreking wat in talle wêrelddele ondervind is.
We apologize for the inconvenience that resulted. We are reviewing our software update process to prevent future disruptions. (3/3)
— Akamai Technologies (@Akamai) July 22, 2021
Akamai het destyds gesê sowat 500 van sy kliënte was vlugtig van lyn af weens ʼn probleem met een van sy aanlyn sekuriteitsprodukte.
Die voorval het die aandag geplaas op die bestendigheid van ekonomies belangrike aanlyn platforms en die sleutelrol wat ʼn handvol betreklik onbekende inhoudbedienernetwerke speel om die web wêreldwyd aan die gang te hou.
In Junie is sekere Amerikaanse mediamaatskappye, regeringswebwerwe, ook dié van die Withuis, The New York Times, Reddit en Amazon tydelik geraak weens ʼn probleem by die wolkdiensverskaffer Fastly.
Fastly bied ʼn diens om die oplaaityd van webwerwe te versnel.