Talle huise ontruim weens vloede in Nieu-Seeland

Honderde inwoners in die Canterbury-streek in Nieu-Seeland moes hul huise ontruim nadat swaar reën vloede meegebring het (Foto: Corporal Sean Spivey, AFP)

Honderde inwoners in die Canterbury-streek in Nieu-Seeland moes hul huise ontruim nadat swaar reën vloede meegebring het.

Meer as 400 mm reën het die afgelope twee dae in dié gebied geval. Dit is meer as die algehele reënval wat hierdie streek gewoonlik in een reënseisoen ontvang.

Owerhede het ʼn rooi weerwaarskuwing uitgereik en ʼn noodtoestand in die streek verklaar nadat riviere weens die swaar reën begin oorstroom het. Mense was genoop om hul huise te ontruim en skuiling teen die vloedwaters te soek.

Ongeveer 300 huise moes ontruim word en owerhede het tydelike tuistes vir dié mense in skole en sportsentrums gevestig (Foto: Corporal Sean Spivey, AFP)

Die Nieu-Seelandse weermag het selfs van sy soldate en voertuie ontplooi om ook mense na veiligheid te bring.

Volgens die weermag het een van sy helikopters drie mense by Ashburton, digby Christchurch, gered. Een van hulle was ʼn man wat in ʼn boom geskuil het terwyl ʼn bejaarde egpaar skuiling bo-op ʼn motor se dak gevind het.

Neil Brown, burgemeester van Ashburton, het gesê die hele stad, wat ongeveer 35 000 mense huisves, is weens die vloede ingeperk.

Die Nieu-Seelandse weermag het selfs van sy soldate en voertuie ontplooi om mense te help ontruim (Foto: Corporal Sean Spivey, AFP)

“Vier brûe en talle paaie in die stad is oorspoel. Altesaam 17 paaie is vir verkeer gesluit. Daar is baie skade,” het Brown aan verslaggewers gesê.

Plaaslike media het berig dat ongeveer 300 huise ontruim is. Burgerlike verdedigingsowerhede het tydelike tuistes vir dié mense in skole en sportsentrums gevestig.

Volgens weervoorspellers sal die reën na verwagting teen Maandagaand begin afneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rian

Dis jammer dié reën het nie hier geval nie. Dit kon dalk n klomp kaders uir hul poste gespoel het.