Minstens 21 liggame is reeds gevind nadat ʼn boot met 105 mense aan boord, meestal toeriste, Donderdag in die see naby Phuket, Thailand, omgeslaan en gesink het.
Prayuth Chan-ocha, Thailand se premier, het gesê die regering sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat die mense wat nog vermis word opgespoor word en om bystand te bied aan die oorlewendes van die ramp.
Die boot het tydens ʼn hewige storm omgeslaan en 48 passasiers is gered. Duikers van die vloot is intussen steeds besig om die boot se wrak, sowat 30 m onder die oppervlak, te fynkam vir moontlike oorlewendes of om liggame te verwyder.
Duikers het reeds talle liggame uit die water gehaal en ander uit die wrak. Minstens 36 mense word steeds vermis. Daar was 93 toeriste, meestal van China, 11 bemanningslede en ʼn toergids op die boot toe dit omgeslaan het. Daar word verwag dat die dodetal aansienlik sal styg.
Dit is reeds bevestig dat tien van die oorledenes van China afkomstig was. Die nasionaliteit van die ander slagoffers is nog nie bekend nie. ʼn Afvaardiging van China was Vrydag op pad na Thailand.
Intussen word swaar reën en sterk wind nog tot Dinsdag voorspel. Nog ʼn boot het Donderdag omgeslaan, maar al 42 mense aan boord is gered en is ongedeerd.
Die voorvalle kom terwyl reddingswerkers steeds spook om 12 jong sokkerspelers en hul afrigter te red uit die Tham Luang Nang Non-grot in die Chiang Rai-provinsie. ʼn Voormalige lid van die Thai-vloot is dood in die reddingspoging. Hy het gesterf tydens ʼn nagtelike operasie om suurstofhouers in die grot te plaas.