Talle Spanjaarde het oog op Rafa as hul baas

Rafael Nadal is ongetwyfeld een van Spanje se grootste helde. Foto: Oscar Gonzalez/NurPhoto via AFP.

Rafael Nadal staan bekend as die “koning van klei”, terwyl talle ontleders en oudspelers hom ook as “een van die bestes nóg” bestempel het.

Maar ʼn onlangse opname wys dat die wenner van 22 Grand Slam-titels ook as uitstekende baas-materiaal beskou word. Wanneer die 36-jarige speler dus eendag sou besluit om sy tennisskoene en raket vir ʼn pak en pen te verruil, sal ʼn hele paar Spanjaarde tog te bly wees om vir hom te werk.

Die opname wat deur amper 5 000 Spaanse respondente voltooi is, het bevind dat Nadal talle van sy landgenote se eerste keuse is om die leisels in die kantooropset vas te vat.

Amper 50% van die teikengroep het aangedui dat hulle soggens betyds agter hul lessenaars sal inskuif en nie oor oor spanbougeleenthede sal mor nie as die voormalige wêreldno. 1-speler aan die stuur van sake is.

Sodoende het die verdedigende Franse Ope-kampioen onder meer stof in die oë van ander bekendes soos Jeff Bezos (stigter van Amazon) en Margarite del Val (Spaanse viroloog) geskop.

ʼn Vorige opname in 2019 het ook aangedui dat Nadal een van die gunstelinge onder Spaanse kinders (vier tot 16 jaar) is.

Nadal is die tennismeester van Parys. Foto: Twitter.

Tog lyk dit of die tennis-ambisievuur nog helder in hom brand.

Hy het vroeër vanjaar die Australiese Ope gewen, terwyl hy vir die 14de keer in sy roemryke loopbaan die silwerware op Roland-Garros omhoog gehou het.

Die Britse tennisspeler Andy Murray het vinnig ’n paar somme ná Nadal se Parys-heldedade gedoen. In ’n neutedop het hy bevind dat die “koning van klei” nie sommer op Roland-Garros onttroon sal word nie.

“Om 14 Grand Slam-titels op dieselfde plek te wen is ’n ongelooflike prestasie. Daar is baie spelers wat nie eens die geleentheid sal kry om 14 keer op Roland-Garros te speel nie; om dan nie eens van die silwerware te praat nie,” het Murray gesê.

Volgens die Brit sal ’n speler sy opponent uit sy sokkies moet speel indien hy enige drome koester om Nadal se rekord te ewenaar.

“’n Talentvolle speler soos Carlos Alcaraz is nou 19 jaar oud. Indien hy gelyk wil breek met Nadal, sal hy elke liewe Franse Ope-toernooi moet wen totdat hy 33 jaar oud is. Ek dink nie dit sal sommer gebeur nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Kom bly liewers in SA en vat oor. Enigeiets, en enigeimand is beter as die ANC en Ramaphosa!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.