Talle sterf in Indonesië-aardbewing

Reddingswerkers gebruik swaar masjinerie om na oorlewendes te soek onder die puin van geboue wat ineengestort het in Pidie Jaya in die Aceh-provinsie in Indonesië (7 Desember 2016). Foto: AP Photo/Heri Juanda

Reddingswerkers gebruik swaar masjinerie om na oorlewendes te soek onder die puin van geboue wat ineengestort het in Pidie Jaya in die Aceh-provinsie in Indonesië (7 Desember 2016). Foto: AP Photo/Heri Juanda

ʼn Sterk aardbewing onder die see het Woensdag Indonesië se Aceh-provinsie geskud en die lewe van minstens 25 mense geëis.

ʼn Intensiewe soektog is tans in Meureudu in die Pidie Jaya-distrik aan die gang waar talle geboue en huise ineengestort het. Polisiebeamptes, soldate en inwoners is besig om met die reddingspoging te help, terwyl masjiengrawe die puin verwyder van huise wat ineengestort het en waar onder drie mense vermoedelik vasgekeer is.

Aiyub Abbas, die distrikshoof, het gesê honderde mense in die distrik is beseer en meer as 40 geboue insluitend moskees, winkels en huise is platgevee. Die distrik is 18 km suidwes van die episentrum geleë. Volgens Abbas is 25 sterftes reeds bevestig. ʼn Plaaslike gesondheidskantoor het gesê agt van die oorledenes is kinders.

Die aardbewing wat 6,4 gemeet het, het sowat 10 km noord van Reuleut, ʼn dorp in noordelike Aceh, 17 km onder die oppervlak plaasgevind. Daar is tans geen risiko vir ʼn tsoenami nie.

Volgens Abbas is daar ʼn dringende behoefte aan masjiengrawe om te help om van die puin en noodvoorraad te skuif. Beeldmateriaal van plaaslike televisiestasies wys hoe liggame in swart sakke verwyder word.

Achmad Taufiq, ʼn gesondheidswerker in die nabygeleë Bireuen-distrik, het gesê een van die oorledenes is ʼn onderwyser by ʼn Moslem-skool wat dood is toe die gebou op hom ineengestort het. Ongeveer 20 mense word by die plaaslike gesondheidsentrum behandel en een persoon is na ʼn hospitaal gehaas nadat hy verskeie beenbreuke en ʼn kopbeserings opgedoen het.

Indonesië, die wêreld se grootste eilandgroep, is kwesbaar vir aardbewings weens sy ligging in die sogenaamde “ring van vuur” in die Stille Oseaan waar kragtige aardbewings en vulkaniese uitbarstings algemeen is.

In Desember 2004 het ʼn massiewe aardbewing ʼn ent weg van Sumatra-eiland ʼn tsoenami veroorsaak wat die lewe van 230 000 mense in 12 verskillende lande geëis het. Meer as 160 000 mense is in Indonesië dood en die meeste van hierdie sterftes het in Aceh voorgekom.

Die aardbewing kom te midde van ‘n “besige” aardbewingweek, met aardbewings van 6,3 wat onder meer in Peru en Indonesië voorgekom het, aardbewings van 6 tussen Siberië en Alaska, een van 5 in Griekeland, een van 5,1 in Iran, en een elk van 5,2 in Indië en China. Nieu-Seeland het ook ‘n naskok van 5 beleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

miv ·

Is ons in die begin van die eindtye soos wat die Woord van God sê?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.